Search
Close this search box.

Samewerking en simulasie maak Fonties belastingslim

Gepubliseer op: 30 Julie 2024

Julie kondig die begin van die Suid-Afrikaanse belastingjaar aan. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se outomatiese aanslae is vanjaar vanaf 1 tot 14 Julie gedoen, waarna individuele belastingbetalers vanaf 15 Julie tot 21 Oktober kans het om hul belastingopgawes vir die 2024-belastingjaar in te dien.

Kennis is mag, en omdat nie alle Suid-Afrikaners bedrewe belastingspesialiste is nie bestaan daar ʼn behoefte aan goed opgeleide belastingpraktisyns. In die lig hiervan het Akademia hande gevat met industrievennote soos CPD Campus en Moore Infinity-Sandton om studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe belastingslim én praktykgereed te maak. Eersgenoemde is ʼn voortgesette professionele ontwikkelingsdiensverskaffer terwyl die ander ʼn multidissiplinêre professionele finansiëlediensverskaffer verteenwoordig.

Hierdie dinamiese samewerking het tot gevolg gehad dat 41 derdejaarstudente in onderskeidelik die nauurse BCom (Finansiële Beplanning)-program en die voltydse BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-program ʼn simulasie-opleidingsprogram ondergaan het en hulself só bekwaam het om elektroniese belastingopgawes te kan voltooi. Die simulasie volg nadat die studente in die eerste semester persoonlike inkomstebelasting en die berekening daarvan as ʼn leereenheid bestudeer het.

Volgens Mariska Wannenburg, programkoördineerder van die BCom (Finansiële Beplanning)-program, verteenwoordig hierdie inisiatief nie net die onderskeie instellings se gedeelde opleidingsvisie nie, maar dit bevorder ook die gehalte van die leerproses. Studente wat 50% of meer vir die simulasie ontvang het, het ʼn vaardigheidsertifikaat ontvang wat hulle tot hul CV’s kan voeg. Wannenburg voeg by dat die tweede groep studente, wat 162 tweedejaarstudente insluit, die belastingopgawe-simulasie in September sal voltooi.

“Dié simulasie-oefening is net nóg ʼn manier hoe Akademia sy studente vir die praktyk voorberei, en het aan studente die geleentheid gebied om hul teoretiese en belastingwetgewingkennis binne ʼn veilige toetsomgewing te slyp,” verduidelik Wannenburg. Sy voeg by dat hierdie tipe praktiese leergeleenthede help om die onsekerheid tussen akademiese voorbereiding en praktiese werkservaring te oorbrug.

Wannenburg en haar mededosente in die belastingdissipline, Sanet van Schalkwyk en Thinus Nienaber, is dit eens dat die waarde van praktykgerigte opleiding van onskatbare belang is – veral vir studente wat eersdaags die arbeidsmark betree. Hierdie studente sal as belastingkonsultante, bestuursrekenmeesters en geoktrooieerde rekenmeesters hul onderskeie gemeenskappe as beroepskundiges dien.

“Akademia sien daarna uit om hierdie baanbrekersinisiatief ʼn jaarlikse instelling te maak, en dat hierdie geleentheid op dié manier ʼn onmisbare toevoeging tot die voorgraadse belastingprogram sal word,” sê Wannenburg.

Mariska Wannenburg, Sanet van Schalkwyk en Thinus Nienaber, almal dosente in Belasting by Akademia, is dit eens dat die waarde van praktykgerigte opleiding nie onderskat moet word nie.
Die simulasie-opleiding verteenwoordig ʼn dinamiese samewerking tussen Akademia, CPD Campus en Moore Infinity-Sandton.