*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Van sang tot skryfkuns: Paarl-Fonties wys hul talent tydens eerste Fontasties

Gepubliseer op:  20 Augustus 2026

Akademia se Paarl-kampus het op 19 Augustus 2026 sy heel eerste Fontasties-talentkompetisie aangebied. Tien verhoogitems – van sang en kitaarbegeleiding tot teaterkuns – is tydens hierdie geleentheid in die Bôrdienghuisteater in Wellington opgevoer. Die program is verder ingekleur met drie inskrywings in die oop kategorie, vir fotografie en skryfkuns, en só is nóg ʼn kultuurpêrel tot die kampus se studentelewekroon gevoeg.

Fontasties, ʼn jaarlikse talentfees waarvan die naam ʼn samevoeging van die woorde “Fonties”* en “fantasties” is, bied aan studente die geleentheid om hul verhoog- en kunsdrome individueel of in kleingroepformaat uit te leef. Die kampus het vroeër vanjaar ook sy eerste Artium-geleentheid aangebied, waartydens koshuise in die toneel- en sêrafdelings meegeding het.

Douard d’Assonville, bestuurder: Studentesake by die Paarl-kampus, sê deelname was oop vir enige Fontie, ongeag vorige verhoogervaring. “Met hul deelname aan die kampus se eerste Fontasties het die studente met moed en vreugde hul talent en geesdrif met mekaar en die groter gemeenskap gedeel. Dit was nie net ʼn uitsonderlike geleentheid nie, maar ʼn eerstehandse bewys dat die kampus se kultuurhartklop gesond is,” sê d’Assonville.

ʼn Program wat spreek tot veelsydigheid

Die aand se program het tot die deelnemende Fonties se veelsydigheid gespreek en die gehoor is behoorlik getrakteer met sang, kitaarbegeleiding en teaterkuns.

Dit was veral twee inskrywings wat die waarde van die geleentheid – as ʼn platform vanwaar Fonties hul eie komposisies en verwerkings kan laat gedy – beklemtoon het. Andrea Diemont en Danille Smit het hul eie liedjie, Dis net jy, uitgevoer, terwyl Retief Loubser, een van Akademia se nauurse afstandstudente, ʼn uittreksel uit My Kat word Herfs opgevoer het wat hy self verwerk het.

Ander verhoogitems is behartig deur Taetse Moller en Chené Boshoff, Mieke Eek, Jovan Smit en Kadin Albertyn, Anri Fourie, Leon Janse van Rensburg, en Merwe Wessels, wat as soliste, in duette en as begeleiers opgetree het.

In die oop kategorie het Joscelynn van Wyk met ʼn fotografieinskrywing deelgeneem, terwyl Cassidy Marinus en Loubser hul skryfkuns ten toon gestel het. Verskeie deelnemers, onder wie Loubser, het meer as een keer en in meer as een kunsvorm deelgeneem, nóg ʼn klinkklare bewys van dié Fonties se talent.

Ervare beoordelaarspaneel

ʼn Beoordelaarspaneel bestaande uit drie ervare en bedrewe kuns-en-kultuurentoesiaste het die moeilike taak gehad om die optredes en inskrywings te beoordeel.

Johan Gouws, dosent: Bestuurswetenskappe op die Paarl-kampus, tree reeds vir byna twee dekades op as sanger, seremoniemeester en verhoogbestuurder. Hy tree voorts gereeld op by kunsfeeste soos Aardklop, die KKNK en die Vrystaat Kunstefees, en het reeds twee albums opgeneem.

Kirsty Nel is ʼn kreatiewe teaterpraktisyn en opvoedkundige sielkundige. Sy is opgelei in drama en is ʼn spesialis op die gebied van stemkuns en fisiese teater. Sy het vyf jaar lank as drama-afrigter by die La Rochelle Meisieskool gewerk en is tans werksaam by die Universiteit Stellenbosch (US).

Emma van der Walt is ʼn sangeres, dramaturg en regisseur met twaalf jaar se klassieke sangopleiding in onder meer opera, kabaret, musiekteater en jazz. Sy het verskeie nasionale en provinsiale toekennings verwerf, waaronder ʼn erepenning van die Vrystaat Kunstefees.

Toekennings

Verskeie toekennings is gedurende Fontasties gemaak, waaronder:

  • FAK-prys vir Mees Belowende Jong Kunstenaar, gedeel deur: Andrea Diemont en Mieke Eek (sang)
  • Beste verhoogpersoonlikheid: Retief Loubser (toneelspel)
  • Naaswenner: Ané Visser (sang)
  • Algehele wenner: Cathleen Potgieter (sang)
  • Oop kategorie: Joscelynn van Wyk (fotografie)

“Fontasties het ʼn besondere plek in ons studenteleweprogram ingeneem en dit skep ʼn ruimte waarin individuele talent en kreatiwiteit kan floreer. Sommige Fonties tree op in ʼn kunsvorm waarin hulle heeltemal gemaklik is, terwyl ander vir die eerste keer iets nuuts aandurf. Albei hierdie groepe hoort op die verhoog,” sê Linda van der Walt, beampte: Kultuur by die Paarl-kampus.

Akademia bedank al die persone betrokke by dié geleentheid en lig veral sy hoed vir elke deelnemende Fontie wat tot die sukses van die Paarl-kampus se eerste Fontasties bygedra het.

Cathleen Potgieter, algehele wenner van die Paarl-kampus se eerste Fontasties, op die verhoog in die Bôrdienghuisteater.
Benewens die verhoogitems is Fonties se fotografie- en skryfkunsinskrywings ook tydens die talentfees uitgestal.
Mieke Eek (links) en Andrea Diemont (regs) ontvang die gedeelde FAK-prys vir Mees Belowende Jong Kunstenaar.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei vanuit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – vanuit die bronne na die toekoms.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.