*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 14 Augustus 2026
Akademia se Paarl-kampus het op Vrydag 7 Augustus 2026 sy eerste Artium-geleentheid met groot welslae aangebied. Twee toneelopvoerings en ʼn sêroptrede is in die Toringkerk se saal opgevoer en het só die grondslag vir die kampus se kuns- en kultuurtradisie neergelê.
Artium, wat sy naam aan die Latynse woord artium, oftewel “van die kunste”, ontleen, is Akademia se jaarlikse kuns- en kultuurskouspel. Dié geleentheid bied aan Fonties* ʼn platform om hul talente te ontwikkel, saam te werk en hul liefde vir die kunste op die verhoog uit te leef.
Douard d’Assonville, bestuurder: Studentesake by die Paarl-kampus, meen dié aand het Fonties se talente ten toon gestel en daar word gevolglik met groot opgewondenheid uitgesien na toekomstige kuns- en kultuuraktiwiteite.
Die kunstekultuur gedy in die Paarl
Ná slegs ses maande as Akademia se eerste groep studente aan die instelling se Paarl-kampus, is dit duidelik dat die kampus se kultuurtradisies gedy, en die Artium-geleentheid word as ʼn hoogtepunt op die studentekalender beskou.
Die eerstejaarskonsert het reeds vroeg in die jaar aan studente die geleentheid gebied om hul verhoogtalente ten toon te stel, terwyl debatsgeleenthede deurlopend deel van die kultuurprogram vorm. Volgens Linda van der Walt, beampte: Kultuur by die Paarl-kampus, vra deelname aan toneel- en sêrgeleenthede veel meer as net talent. Deelnemende Fonties moet hul tyd doeltreffend bestuur en oefensessies te midde van hul klas- en assesseringsaktiwiteite inpas, tekste en musiekverwerkings bemeester sowel as terugvoer verwerk. Deur dié proses leer Fonties om gedissiplineerd te werk, verantwoordelikheid vir hul eie aandeel te aanvaar en saam met ander iets tot stand te bring wat niemand alleen sou kon vermag nie. Só word kuns- en kultuurdeelname deel van Akademia se vormingsideaal, waar studentwees oor die vorming van denke én hart handel.
“Die Paarl-Fonties hou aan om te beïndruk en te inspireer met die wyse waarop hulle hierdie projekte aanpak. Ek is veral trots op die enkele studente wat geen agtergrond in sang of toneelspel het nie, maar ʼn kans gewaag en hulself oortref het. Artium 2026 maak my opgewonde oor die toekoms van kuns en kultuur by Akademia waar samewerking en waagmoed seëvier,” sê Van der Walt.
Koshuise bou vanjaar saam
Artium dien tradisioneel as die kultuurgalageleentheid van die jaar, waartydens finaliste in die onderskeie afdelings optree en koshuise om die kultuurbeker meeding. Op die Paarl-kampus is die twee toneelgeselskappe en die sêrgroep vanjaar uit studente van al vier die koshuise saamgestel.
Die vooruitsig is dat elke koshuis en daghuis mettertyd sy eie toneelproduksie en sêrgroep op die been sal bring, en só ʼn eie kuns- en kultuuridentiteit nóg verder sal ontwikkel.
Agter elke optrede was ʼn span wat reeds lank voor die eerste applous aan die produksies gewerk het. Die damestoneelproduksie, Benoni Springs, is deur Van der Walt geskryf en geregisseer, en die manstoneelproduksie, Doodloop, is deur Emma van der Walt geskryf terwyl Duan Craffert die regie behartig het.
Die sêrgroep is deur Nadia Craffert en Elizma Stander afgerig, met MJ Nel wat vir die musiekverwerkings van geliefde Afrikaanse liedjies verantwoordelik was.
Ervare beoordelaarspaneel
ʼn Ervare groep kundiges het die moeilike taak gehad om die optredes te beoordeel. Die paneel is soos volg saamgestel:
Sêr
Emma van der Walt (klassiek opgeleide sangeres)
Elrise de Kock (sêr- en dansveteraan)
Toneel
Johann Smith (gesoute skrywer en regisseur)
Emma Wiehman (drama-opvoeder en regisseur)
Ná afloop van die optredes en die beoordelaars se insette, is die volgende toekennings aangekondig:
Sêrtoekennings
Sêruitskieter: Iwano Wagener
Toneeltoekennings
Doodloop
Spesiale beoordelaarstoekenning
Die beoordelaarspaneel het ook besluit om ʼn spesiale toekenning te skep vir twee studente wat aan beide die sêr- en toneelafdeling deelgeneem en in albei kategorieë uitgeblink het.
Veelsydigheidstoekenning: Tanya Pieterse en Stiaan Coetzee
Akademia bedank die beoordelaars, afrigters en elke Fontie wat tot die sukses van die eerste Paarl-Artium 2026 bygedra het.



*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.