*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 21 Augustus 2026
Internasionale deelnemers aan die Jongerenprojek (JP) het in Julie voet aan wal gesit in Suid-Afrika en onder meer tyd by Akademia se kampusse in die Paarl en Pretoria spandeer. Dié gesogte uitruilprogram poog jaarliks om deelnemers ʼn beter begrip te gee van die onderliggende verhouding wat daar tussen die Lae Lande (Nederland en België) en Suid-Afrika, Namibië ingesluit, bestaan.
Tydens vanjaar se besoek, wat vanaf 15 Julie tot 9 Augustus gestrek het, het ʼn groep van elf deelnemers uit Nederland en België, vergesel deur twee begeleiers, ʼn van verskeie streke onderneem. Laasgenoemde het onder meer die Kaap, die Vrystaat, Noordwes en Gauteng ingesluit. Besoek is ook aan Windhoek en Walvisbaai in Namibië afgelê.
Volgens DJ Cloete, ʼn dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Geesteswetenskappe en die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Jongerenprojeknetwerk (JPN), steun die projek sterk op die bestaande taalbande tussen Afrikaans en Nederlands wat die uitruilprogram wedersyds verstaanbaar maak.
Akademia was die enigste instelling op die reisplan waar deelnemers die geleentheid gehad het om twee kampusse te besoek. In die Paarl het hulle op 16 Julie ʼn aanbieding deur Tony van der Merwe, kampusbedryfsbestuurder, bygewoon wat gevolg is deur ʼn begeleide toer en ʼn gesellige middagete. “Dit is die eerste keer wat JP-deelnemers die Paarl-kampus besoek en daarom het ons dit goed gedink om hulle ʼn eerstehandse belewenis van die kampus te bied en só Akademia se groei op ʼn tasbare wyse te illustreer,” verduidelik Cloete.
By Akademia se Leriba-kampus in Pretoria het Karien Brits, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe, ʼn lesing aangebied oor die aanleer en belangrikheid van Sepedi, waarna deelnemers ook ʼn begeleide toer van die fasiliteite onderneem het. Die Gauteng-been van die besoek het voorts ʼn Jongerenprojek-alumni-geleentheid ingesluit waar ouddeelnemers saam met vanjaar se groep kon kuier en só vriendskapsbande verder kon versterk.
Die taalbande waarop die sukses van die projek berus, word volgens Cloete op ʼn baie organiese wyse neergelê. Deelnemers maak kennis met Afrikaans tydens lesings en toere, maar die werklike bande ontstaan wanneer hulle by gasouers dwarsoor die land tuisgaan. “Deelnemers kommunikeer in Nederlands en gasouers in Afrikaans. Soms poog die een om ʼn vorm van die ander se taal te praat, en hierdie pogings het gewoonlik iets moois tot gevolg – bande wat nog jare lank ná afloop van die program behoue bly,” sê hy.
Die kulturele program het onder meer ʼn tradisionele sokkie-aand ingesluit waar deelnemers bekendgestel is aan eietydse Afrikaanse langarmdanspassies. Cloete wys daarop dat die eerste en die laaste been van die reis ʼn kringloop voltooi: “Die kampus- en Taalmonumentbesoek in die Paarl en die kampus- en Voortrekkermonumentbesoek in Pretoria bind alle bakens van die Afrikaanse taal mooi saam.”
Verbondenheid die sleutel tot ʼn suksesvolle uitruilprogram
Cloete verduidelik dat Akademia, as ʼn trotse gemeenskapsinstelling, diesulke besoeke en die uitbouing van goeie verhoudings op nasionale én internasionale vlak aanmoedig.
Die terme “gemeenskap” en “globalisering” staan volgens hom nie by Akademia in spanning met mekaar nie; die spesifieke gemeenskap en die internasionale wêreld word eerder in onderlinge samehang raakgesien. Die onlangse kampusbesoeke is ʼn tasbare uitvloeisel van dié verbondenheidswaarde.
Die JPN deel hierdie siening en deur dié internasionale projek word ʼn wedersydse begrip en waardering vir die Europese en Suider-Afrikaanse kulture ontwikkel en gemeenskaplikheid tussen Suid-Afrika, Namibië, Nederland en België bevorder deur middel van:
skakeling met uiteenlopende organisasies en instellings om ʼn veelheid van perspektiewe aan deelnemers te bied.
“Die samewerking met Akademia bied die JPN die geleentheid om nie net openbare hoëronderwysinstellings te besoek nie, maar ook ʼn privaat Afrikaanse hoëronderwysinstelling wat die veelheid van perspektiewe op die reis verryk,” meen Cloete. Cloete sê dat benewens die deelnemende instellings daar ook baie moeite deur vrywilligers, gasouers en borge gedoen is.
“Soos elke ander jaar, kry deelnemers uit Suider-Afrika die geleentheid om die Lae Lande te besoek, en kort ná afloop van vanjaar se reis begin die komitee reeds om die volgende reis vir 2027 te beplan,” sluit Cloete af.
Geregistreerde tweedejaarstudente verbonde aan enige hoëronderwysinstelling en in enige vakgebied in Suid-Afrika en Namibië kan aansoek doen om aan die 2027-program deel te neem sodra die inligting bekendgemaak word. Aansoeke word gekeur om uiteindelik tussen veertien en sestien deelnemers na die Lae Lande te neem. Besoek die Jongerenprojek-webblad of stuur ʼn e-pos na navrae@jpnsa.co.za vir meer inligting.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.