*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 26 Augustus 2026
Vir Corlé Visser, dosent in Wiskundige Wetenskappe by Akademia, is wiskunde veel meer as syfers, formules en berekeninge. Dit is ʼn lens waardeur sy die wêreld probeer verstaan – ʼn manier om komplekse probleme te ontleed, nuwe oplossings te ontdek en moontlikhede raak te sien waar ander dalk net uitdagings sien. Haar reis van ʼn jong wiskundeliefhebber in Bloemfontein tot junior dosent: Wiskundige Wetenskappe en ontluikende astrofisikanavorser is ʼn treffende voorbeeld van hoe nuuskierigheid en ʼn liefde vir wetenskap ʼn mens se horisonne kan verbreed.
Van die lesingslokaal na die kosmos
Op 27-jarige ouderdom het Visser reeds ʼn besonderse akademiese reis afgelê. Nadat sy haar skoolloopbaan aan Hoërskool Sentraal in Bloemfontein voltooi het, het sy in 2021 ʼn graad in Bedryfsingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf. Haar liefde vir wiskunde het haar daarna verder gevoer, met ʼn honneursgraad in Wiskunde en Toegepaste Wiskunde in 2022, gevolg deur ʼn meestersgraad in Toegepaste Wiskunde, met spesialisering in astrofisika, aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in 2025.
Die volgende bestemming op dié akademiese reis is ʼn doktorsgraad. Visser beoog om in 2027 met haar doktorale studie in toegepaste wiskunde, met ʼn verdere fokus op astrofisika, te begin.
Haar navorsingsbelangstelling lê op die kruispunt van toegepaste wiskunde en astrofisika, met ʼn spesifieke fokus op gravitasie rondom swaar voorwerpe soos gravitasiekolke. Een van die doelwitte van haar toekomstige navorsing is om vinnige en akkurate simulasies van gravitasiekolke te ontwikkel sonder die behoefte aan gespesialiseerde toerusting.
Maar wat maak die veld vir haar so fassinerend?
“Vandat ek kan onthou, het ek van wiskunde gehou. Toegepaste wiskunde het my toegelaat om die wêreld op ʼn ander manier te verstaan,” verduidelik Visser. Dit is dan ook juis die moontlikheid dat ingewikkelde wiskundige konsepte tot werklike toepassings kan lei, wat haar toewyding en belangstelling prikkel. Sy geniet dit om komplekse probleme op te los, nuwe oplossings te ontdek en moeilike konsepte op ʼn visuele manier voor te stel sodat dit vir meer mense toeganklik kan wees.
Die reis vanaf student na dosent en navorser
Visser se relatief kort loopbaan het haar reeds van student na dosent en opkomende navorser geneem. Dié reis het haar egter ook geleer dat sukses nie altyd ʼn reguit of lineêre pad is nie.
Die belangrikste les wat sy onderweg geleer het, is geduld. “Daar is net soveel ure in ʼn dag en alles kan nie gelyk gebeur nie. Dit is nie altyd maklik as jy nie vorder soos jy wil nie, maar om jouself te forseer gaan jou ook nie help nie. Nie alles gaan die eerste keer reg uitwerk nie, maar in elke fase is daar iets wat jy kan leer,” verwoord Visser haar lewensuitkyk.
As dosent is dit juis die oomblikke wanneer ʼn student ʼn komplekse konsep uiteindelik verstaan wat vir haar besonder bevredigend is. Haar navorsing bied weer ander hoogtepunte. Konferensies gee aan haar die geleentheid om haar werk met ander wetenskaplikes te deel, nuwe navorsing in haar veld te ontdek en waardevolle terugvoer op haar eie werk te ontvang.
Visser is reeds sedert Januarie 2024 deel van die Akademia-personeelkorps. Sy doseer onder meer Optimering vir derdejaarstudente, Dinamika II vir tweedejaarstudente en Numeriese Metodes vir eerstejaarstudente.

Wiskunde as ʼn lens na die wêreld
Hoewel astrofisika op die oog af ver van die alledaagse lewe verwyderd mag voel, is die moontlike toepassings van Visser se navorsing veel nader aan ons as wat ʼn mens aanvanklik sou dink.
In fisika kan haar werk byvoorbeeld ʼn toetsruimte bied vir fundamentele teorieë soos dié van Einstein se algemene relatiwiteit. Die navorsing hou ook moontlikhede vir datawetenskap in, veral wanneer beelddata met beperkte inligting en hoë vlakke van ruis ontleed word. Soortgelyke algoritmes kan uiteindelik in ander velde, soos mediese beeldvorming, toegepas word.
Vir Visser is daar egter ook ʼn belangrike opvoedkundige dimensie. “Die aard van hierdie tipe navorsing, veral die beeldvorming, maak dit meer toeganklik vir die breë publiek en studente. Dit is dan ook my hoop dat dit verdere belangstelling, ondersteuning en deelname in hierdie veld sal bevorder,” sê Visser.
STEM as belangrike boustene vir probleemoplossing
Visser se passie vir STEM – wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde – strek egter veel verder as haar eie navorsingsveld. Vir haar is die waarde van STEM uiteindelik gesetel in een fundamentele vaardigheid: kritiese denke.
Die vermoë om probleme krities te benader, is volgens haar nie net waardevol binne die wetenskap nie. Dit help mense om beter besluite te neem oor hul tyd, geld en hulpbronne, en om uitdagings in hul daaglikse lewe meer doelgerig aan te pak.
In Suid-Afrika kan STEM-denke volgens haar ook help om plaaslike uitdagings met plaaslike, kreatiewe oplossings aan te pak. “STEM-vaardighede rus jou toe om unieke uitdagings vanuit nuwe perspektiewe aan te pak en gevolglik met innoverende alternatiewe na vore te tree,” meen Visser.
ʼn Les oor berge en valleie
Vir leerders wat voel dat hulle nie “goed genoeg” is in wiskunde of wetenskap nie, het Visser ʼn eenvoudige boodskap: Moenie jouself te gou uitsluit nie.
Wiskunde kan uitdagend wees, maar volgens haar begin goeie probleemoplossing nie by die formule nie – dit begin by die vermoë om die probleem te verstaan. Om dit te illustreer, gebruik sy die beeld van ʼn berg en ʼn vallei:
Jy moet die maksimum waarde van ʼn funksie bepaal. Sien dié funksie as die buitelyn van ʼn berg. Die piek van die berg is waar jy nie opdraande óf afdraande loop nie, maar presies op die toppunt is en gelykstaan. Vertaal dit terug in wiskunde, dit gaan wees waar die gradiënt nul is, die gradiënt is positief as jy opwaarts loop en dit is negatief as jy afwaarts loop. Dieselfde geld vir die onderpunt van ʼn vallei of dan ʼn minimum. Dus kan jy nou ook sien alhoewel die gradiënt nul is, is dit nie altyd ʼn maksimum nie, maar kan dit ook ʼn minimum wees.
“Fokus eerder op kritiese denke. As jy die probleem verstaan en sien waar dit in die regte wêreld voorkom, is dit dalk makliker om die antwoord te probeer vind,” raai Visser aan. Sy voeg by dat ʼn begronding in wiskunde en wetenskap boonop veel meer deure kan oopmaak as wat jongmense dalk besef.
Loopbaanmoontlikhede sluit onder meer data-analise, kuberveiligheid, bankwese, versekering, beleggingsbestuur, ingenieurskonsultasie en navorsing by instellings soos die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in.
ʼn STEM-reis met vele horisonne
In ʼn maand waarin die bydrae van vroue tot die samelewing gevier word, herinner Visser se verhaal ons daaraan dat STEM nie net oor kennis en tegnologie gaan nie. Dit gaan óók oor nuuskierigheid, deursettingsvermoë, verbeelding en die moed om vrae te vra waarop daar nog nie antwoorde is nie.
Haar eie reis is ʼn treffende voorbeeld hiervan: ʼn Liefde vir wiskunde – wat reeds in haar kinderjare begin het – het haar van ʼn klaskamer in Bloemfontein tot die studie van die heelal se mees komplekse verskynsels gelei.
En dié ontdekkingsreis is nog lank nie verby nie.
Stel jy belang in ʼn loopbaan in Wiskundige Wetenskappe? Akademia bied ʼn BSc (Wiskundige Wetenskappe)-program aan wat ten doel het om studente toe te rus met ʼn soliede grondslag in Wiskunde, Toegepaste Wiskunde en Wiskundige Statistiek. Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar word reeds ingewag. Besoek vandag nog die Akademia-webblad vir meer inligting.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.