Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Oudtoppresteerder gesels oor sy ervaring van NGOS-kwalifikasie by Akademia

Gepubliseer op: 13 Junie 2022

Jaco Conradie, topstudent van sy klasgroep in 2021 by Akademia, vertel dat sy Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys) (NGOS)-jaar ʼn storie van toeval en definitief ook ingryping van Bo was. Hy volg nou sy droom as Afrikaansonderwyser by Drie Riviere Hoërskool en raai die studierigting van Akademia aan vir ander wat ʼn verskil in leerders se lewens wil maak.

Hy het voorgraads ʼn BA-graad in taalpraktyk en Afrikaans/Nederlands aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus voltooi. “Ek het daarna my honneursgraad in taalpraktyk voltooi met spesialisering in teksredaksie, onderskrifskrywing en vertaling by dieselfde universiteit en kampus,” sê Conradie. Hy het beide kwalifikasies cum laude geslaag.

Hy het per toeval in sy adjunkhoof se kantoor ʼn strooibiljet van Akademia gesien. “Ek het onmiddellik aanklank gevind by Akademia se Christelike waardes en die geleenthede wat die instelling vir Afrikaanssprekende studente skep,” noem Conradie. Hy het toe met huidige studente van die instelling gesels en hulle het slegs positiewe kommentaar gehad. “Ek het my aansoek ingedien en het baie vinnig terugvoer ontvang dat my aansoek goedgekeur is. Ek was ekstaties,” vertel hy.

Conradie het besluit om Akademia se NGOS-kwalifikasie aan te pak vir verskeie redes. “Eerstens, ʼn NGOS-kwalifikasie is ʼn waardevolle kwalifikasie om te besit aangesien dit die student in staat stel om bestaande kennis te kombineer met die vaardigheid om ander effektief te onderrig,” sê hy. Volgens hom leer die NGOS-kwalifikasie ʼn student hoe om dit wat jy weet effektief en logies deur middel van verskeie onderrigstyle, -metodes, en -tegnieke aan ander oor te dra en te assesseer. Onderwys gaan nie net vir Conradie oor die oordra van feite aan leerders nie, maar ook om hul voor te berei vir die lewe ná skool. “ʼn Onderwyser, ongeag watter vakke of ouderdomme hulle onderrig, het ʼn groot verantwoordelikheid teenoor elke leerder wat voor hom/haar sit.”

Die Departement van Onderwys vereis dat ʼn persoon oor ʼn onderwyskwalifikasie moet beskik om sodoende ʼn permanente departementele aanstelling te verkry en om bevorder te kan word tot ʼn hoër posvlak. “Ek het dus besluit om die kwalifikasie te voltooi om hierdie geleenthede te kan kry. Die NGOS-kwalifikasie het my beroep as onderwyser dus baie bevorder,” vertel hy verder.

Hierdie kwalifikasie word tans op Akademia se nauurse onderrigleermodel aangebied. “Om nauurs te studeer was vir my ʼn groot, maar ʼn lekker uitdaging. Ek het voltyds gewerk en die onsekerheid wat Covid-19 geskep het, was maar altyd in my gedagtes,” sê hy. “Dié model is egter fantasties vir werkende studente.”

Conradie vertel dat die lesings van so aard is dat dit nie baie van jou tyd in beslag neem nie, maar steeds baie waardevol is. “Lesings vind in die aande plaas so jy hoef nie van jou tyd by die werk af te vat om lesings by te woon nie. Die meeste van jou toetse en eksamens vind op Saterdae plaas, so dit is baie min dat jy verlof hoef te neem om toetse of eksamens af te lê,” sê hy.

Die dosente is uiters professioneel en die gehalte van onderrig en assessering is baie hoog volgens Conradie. “Ek is seker dat Akademia se NGOS-program net nog beter gaan word en ek sal enige student wat die kwalifikasie wil voltooi, aanraai om by Akademia te gaan studeer.”

Sy raad aan ander werkende studente wat besluit om te studeer is om eerstens te besef dat sukses in hul studies vierkantig op hul eie skouers rus. “Jy moet daarom bereid wees om hard te werk en om positief te bly.”

As jy belangstel om ná jou studies ʼn loopbaan in die opvoedkunde te volg en ʼn werklike verskil te maak in die lewens van ons jeug, oorweeg om ʼn NGOS-kwalifikasie te voltooi. Vir meer inligting oor hierdie kwalifikasie by Akademia, klik hier. Aansoeke vir 2023 sluit 30 November 2022. Kom maak kennis met jou toekoms!

Jaco Conradie, toppresteerder van die 2021-NGOS-program en Afrikaansonderwyser by Drie Riviere Hoërskool, vertel oor sy positiewe studiereis by Akademia.