Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Nasionale Jeugdag: Wat maak Suid-Afrika se jeug besonders?

Gepubliseer op: 14 Junie 2022

Geskryf deur Douard d’Assonville, studentesakekoördineerder by Akademia

Suid-Afrika se jeug is bekend weens verskillende redes. Wanneer ʼn mens in so ʼn besondere land soos Suid-Afrika grootword, kan jy eintlik nie anders as om vaardighede en eienskappe te ontwikkel, wat baie min ander jeuggroepe in die internasionale konteks het nie. Wat ek hiermee bedoel is ʼn balans tussen gedrewenheid na prestasie op akademiese maar ook en veral die strewe om op ekstrakurrikulêre vlak mee te ding. Ons jeug word van jongs af gemotiveer en in die posisie geplaas om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie besluite en om sodoende ʼn positiewe impak op hulle gemeenskap en omgewing te maak. As ʼn mens maar net kyk na die baie inisiatiewe wat deur skoliere geloods word wat ʼn enorme impak op die wyer samelewing het, word hierdie aspekte baie duidelik.

Hierdie kwessie laat natuurlik die vraag ontstaan oor waarom daar juis in Suid-Afrika so ʼn bereidwilligheid tot harde werk en prestasiegerigtheid ontstaan, met ʼn fokus nie net op onsself nie maar ook op die gemeenskap. Ek dink dit het verskeie redes en vind sy oorsprong in verskeie faktore. Op die voorgrond is beslis dikwels ʼn diep afhanklikheidsbesef van die Here se genade wat in baie van die Suid-Afrikaanse jeug se opvoeding na vore kom. Ons moet besef dat die voorspoed en rykdom in baie ander lande, veral eerstewêreldlande, daartoe lei dat die mense onafhanklik voel en slegs op hulle eie vaardighede, wêreldse eiendom en vernuf staatmaak wat nie noodwendig in Suid-Afrika plaasvind nie.

Die groot fokus op opvoeding van die jeug en die belangrikheid om dit op Christelike waardes te baseer, lewer ʼn deurslaggewende bydrae daartoe dat hierdie afhanklikheidsbesef in baie van Suid-Afrika se jeug voortleef. 1 Petrus 4:10 skiet ʼn mens natuurlik dadelik te binne, waar daar geskryf staan dat ons elkeen ʼn genadegawe vanaf die Here ontvang het en dat ons mekaar daarmee moet dien. Siende dat Suid-Afrika ʼn land is waar die Christelike wortels ver in baie van ons stambome terugstrek, word ʼn mens bewus van die groot effek wat dit ook vandag op ons jeug en hulle optrede het.

Instellings soos Akademia se opvoedingstaak en die verantwoordelikheid teenoor ons jeug word in hierdie opsig baie duidelik en spreek vanself. Daarom vier ons ook Nasionale Jeugdag op 16 Junie. Nie net word die jeug daaraan herinner om hierdie talente (genadegawes) ten volle uit te leef nie, maar mens word bewus van die groot voorreg om in ʼn land te leef waar ons ons kinders so kan grootmaak en die belangrikheid hiervan kan leer. Hierdie verantwoordelikheid kom met aanspreeklikheid. Ons moet mekaar elke dag opnuut motiveer om aan te hou bou en skep, sodat die jeug verder in ʼn land en gemeenskap kan bly waarop hulle trots is, tot eer van die Here (Rom. 11:36).

Douard d’Assonville is die nuwe studentesakekoördineerder by Akademia met ʼn groot visie vir die jeug van Suid-Afrika.