*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Van die wolke na die sterre: orbitale datasentrums neem wolkverwerking na nuwe hoogtes

Gepubliseer op:  16 Julie 2026

Geskryf deur Eugene Steyn, junior dosent: Rekenaarwetenskappe aan Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe

Dataverwerking is ʼn gonswoord van ons tyd, veral gegewe die snelle pas waarteen tegnologie ontwikkel en verbeter. In ʼn vorige meningstuk het ons die soeklig geskyn op wolkverwerking en hoe hierdie infrastruktuurtegnologie die digitale wêreld onherroeplik verander het. Wat eens slegs vir groot ondernemings beskore was, is vandag binne die bereik van klein besighede, navorsers en Jan Publiek.

Wanneer daar na wolkverwerking verwys word, bestaan die gevaar om aan iets onsigbaar en ontasbaar te dink. Wanneer jy foto’s stoor, ʼn kunsmatige intelligensie (KI)-toepassing gebruik of aanlyn vergader gebeur alles skynbaar iewers in die agtergrond. Hierdie aanname is ver verwyder van die werklikheid. Agter elke digitale diens staan enorme datasentrums wat dag en nag werk om die rekenaar- en tegnologiese wêreld aan die gang te hou.

Gedagtig aan die hedendaagse dataontploffing en toenemende vraag na KI neem die druk op hierdie infrastruktuur óók eksponensieel toe – en word daar groot eise aan beperkte of duur hulpbronne gestel. Datasentrums verg enorme hoeveelhede elektrisiteit, water vir verkoeling en waardevolle grondruimte. Hiermee saam ontstaan nuwe uitdagings soos geraas-, hitte- en ander omgewingsimpakte, veral waar hierdie fasiliteite naby stedelike gebiede opgerig word.

Die vraag is daarom nie meer bloot hoe ons meer datasentrums moet bou nie, maar eerder waar ons dit in die toekoms gaan plaas. ʼn Idee wat enkele jare gelede na wetenskapsfiksie sou klink, word meer en meer oorweeg: datasentrums in die ruimte.

Orbitale datasentrums: wetenskapsfiksie word ʼn werklikheid

Verskeie ruimte- en satellietmaatskappye ondersoek reeds die moontlikheid om groot orbitale datasentrums in lae wentelbane om die aarde te ontplooi.

Deur sonenergie as primêre kragbron te gebruik en die natuurlike koue temperature van die ruimte vir verkoeling te benut, kan sommige van die grootste uitdagings wat met aardgebaseerde datasentrums vereenselwig word, moontlik verminder word. Hoëspoedlaserverbindings sal hierdie satelliete met mekaar en met grondstasies verbind.

Dié konsep is egter nie sonder enige uitdagings nie. Latensie, lanseringskoste, ruimteafval, ligbesoedeling en instandhouding bly beduidende vraagstukke, om nie eens van die astronomiese koste hieraan verbonde te praat nie. Tog toon die tempo waarteen ruimtevaarttegnologieë ontwikkel dat hierdie uitdagings nie noodwendig onoorkomlik is nie.

Groot deurbrake word opgewonde dopgehou

Een van die grootste rolspelers in hierdie milieu is SpaceX wat op 12 Junie vanjaar op die Amerikaanse aandelebeurs, NASDAQ, genoteer is. Die Starship-program, wat op 20 April 2023 sy eerste toetsvlug onderneem het, is spesiaal ontwerp om groot vragte data goedkoop in die ruimte te stoor met behulp van ʼn massiewe ruimtetuig. Hoewel hierdie program nog in sy kinderskoene staan, is daar reeds groot deurbrake gemaak. Indien orbitale datasentrums soos hierdie op groot skaal kan realiseer, kan dit die wêreld van wolkverwerking ingrypend verander.

Die Starship-ruimtetuie beskik oor die vermoë om groter datasentrumsatelliete teen ʼn hoë spoed te lanseer wat die stelselkoste verminder. Hiermee saam het SpaceX by die Amerikaanse reguleerders aansoek gedoen om tot een miljoen van hierdie satelliete te lanseer. Hierdie aansoek getuig daarvan dat dié maatskappy – en ander rolspelers – daartoe verbind is om geweldige groot rekenaarverwerkingskapasiteite daar te stel wat ʼn verdere toename in wolkverwerkingstoepassings moontlik sal maak. Ander rolspelers in die verband sluit Google en Anthropic in.

Toepassings soos grootdata-ontleding, wetenskaplike simulasies, bondelverwerking en baie KI-toepassings wat nie latensiesensitief is nie, kan maklik na die orbitale datasentrums verskuif word. Die gevolg hiervan is dat daar uiteindelik meer verwerkingskapasiteit teen laer koste beskikbaar gestel kan word en só nuwe opwindende fases van digitale vindingrykheid kan ontsluit.

(Ruim) nuwe moontlikhede vir rekenaarwetenskaplikes

Gedagtig aan die bogenoemde ontwikkelingsverwagtinge is die vraag nie meer óf ʼn beroep in rekenaarwetenskappe belangrik is nie, want dit is verseker! Voornemende studente wat hulself in hierdie toekomsgedrewe beroepsveld wil vestig moet nie nét met akademiese kennis oor huidige stelsels toegerus word nie, maar ook die vermoë ontwikkel om nuwe tegnologiese moontlikhede krities te verstaan en verantwoordelik te kan toepas.

By Akademia weerspieël hierdie benadering die wyse waarop die Departement Rekenaarwetenskappe binne die Fakulteit Natuurwetenskappe sy programme voortdurend uitbrei en ontwikkel. Onderwerpe soos wolkverwerking, datawetenskap en KI vorm reeds doelgerig deel van studente se akademiese vorming, sodat hulle nie nét vir vandag se digitale wêreld voorberei word nie, maar óók vir die nuwe ontwikkelinge wat nog op die horison (of eerder die buitenste ruim) wag.

Die BSc (Rekenaarwetenskappe)-program* bied aan studente die keuse om in een van twee fokusareas te spesialiseer, naamlik datawetenskappe en sagteware-ontwikkeling. Die sagteware-ontwikkelingstroom omvat wolkverwerking as ʼn toegewyde module. Laasgenoemde is geskoei op die eksterne Comptia Cloud+- en AWS Certified Cloud Practitioner-sertifiserings, en bied studente ʼn gulde geleentheid om terselfdertyd ook hierdie gesogte sertifiserings te bekom. Die datawetenskappestroom sluit ʼn verskeidenheid data-analisemodules in wat ook belangrike boustene vir enige rekenaarwetenskaplike neerlê.

Die geskiedenis van tegnologie wys daarop dat die grootste veranderinge dikwels hul begin in onwaarskynlike idees het. Vandag lyk datasentrums in die ruimte dalk nog futuristies, maar oor ʼn dekade kan dit bloot deel wees van die infrastruktuur waarop die wêreld se digitale verwerkingsekonomie berus.

*Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar is reeds oop. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.

Eugene Steyn, junior dosent: Rekenaarwetenskappe aan Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe, is opgewonde oor die toekoms van wolkverwerking en hoe hierdie snelontwikkelende tegnologie die digitale werkswêreld vir rekenaarwetenskaplikes verander.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.