*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 13 Julie 2026
Lede van die Akademia-gemeenskap het op 2 Julie 2026 feestelik ʼn glas geklink op die bekendstelling van die instelling se tweede wyn, Ode aan De Vrijburger. Hierdie Shiraz Mourvèdre Grenache (SMG)-versnit is spesiaal vir Akademia deur die bekroonde wynmaker Wynand Grobler van De Kleine Wijn ontwikkel en gebottel.
Die bekendstelling het tydens ʼn wynproegeleentheid op Akademia se Leriba-kampus in Pretoria plaasgevind, waar die wyn as meer as net ʼn nuwe versnit bekendgestel is. Dit is as ʼn simboliese huldeblyk aan die gees van vryheid, selfstandigheid en ʼn doelgerigte toekomsstrewe beskryf. Hierdie karaktereienskappe versinnebeeld die instelling se hartklop en verteenwoordig ʼn viering van die nalatenskap van die toekomsbouers van ouds.
ʼn Verhaal wat gister en môre verbind
In haar verwelkoming het dr. Zydèlia Venter, hoof: Bemarking en Kommunikasie, die simboliek agter die naam Ode aan De Vrijburger toegelig.
Sy het verduidelik dat die naam verwys na die eerste vryburgers aan die Kaap wat vanaf 1657 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) toegelaat is om hul eie bestaan te voer nadat hulle uit diens van die kompanjie getree het. Vir baie van hierdie vroeë vryburgers was die Kaap nie noodwendig ʼn eindbestemming nie en hulle het oraloor huise, plase, kerke en instellings gevestig en só stukrag aan gemeenskapsvorming gegee.
“Die verhaal van die vryburgers is uiteindelik ʼn verhaal van vestiging, selfstandigheid en die bou van ʼn gemeenskap,” het Venter gesê en bygevoeg dat die geskiedenis simbolies aanklank vind by Akademia se eie ontwikkelingsreis.
“Soos die pioniers van destyds hulself gevestig het en vir die toekoms begin bou het, bevind Akademia homself vandag op ʼn soortgelyke keerpunt. Met ons nuwe wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria wat in 2028 sy deure open, betree die instelling ʼn nuwe fase van vestiging – een waarin ʼn blywende akademiese tuiste vir toekomstige geslagte geskep word,” verduidelik Venter.
Gedagtig hieraan vier Ode aan De Vrijburger nie slegs ʼn historiese nalatenskap nie, maar ook die mense en gemeenskappe wat vandag met dieselfde visie, moed en verantwoordelikheid aan die toekoms bou.
ʼn Heildronk op die krag van gemeenskap
Die nuwe wyn volg op die instelling se eerste wyn, ʼn Dekade van pionierswerk, wat in 2022 ter viering van die instelling se tiende bestaansjaar bekendgestel is. Meer as 2 500 bottels van dié pinotage in Boergondiese styl is sedertdien versprei.
Volgens Venter het die sukses van die eerste wyn gewys dat dit veel meer as net nóg ʼn korporatiewe geskenk of uitdeelstuk geword het. “Ons het besef hierdie wyn verteenwoordig iets van Akademia se karakter. Dit vertel die verhaal van klassieke begronding, gemeenskapsverbondenheid en ʼn langtermynvisie – eienskappe wat ons ook in hierdie nuwe wyn wou vasvang,” sê Venter.
Met Ode aan De Vrijburger voeg Akademia dus nie bloot net ʼn tweede wyn by sy versameling nie. Die versnit is tekenend van die instelling wat ná jare van pionierswerk besig is om hom op ʼn permanente tuiste te vestig met die oog op die geslagte wat volg.
Ode aan De Vrijburger is op Die Winkel beskikbaar. Klik hier om jou bottel wyn teen R200 per bottel by jou versameling te voeg.


Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.