Search
Close this search box.

Onderwyser, jy is en doen soveel méér – Akademia-kenner

Gepubliseer op: 4 Oktober 2024

Geskryf deur dr. Chris-Mari Le Hanie, dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia.

Op 5 Oktober 2024 word Onderwysersdag landswyd gevier. Op dié dag val die kollig opnuut op onderwysers, hul rol en die waarde wat hulle tot die vorming van die jeug toevoeg. Hierdie waardering bly dikwels agterweë en skiet die begrip vir die omvang van die waarde wat onderwysers toevoeg te kort. Om ʼn onderwyser te wees behels immers soveel méér as bloot die uitvoering van ʼn beroep, dit is in wese ʼn roepingsbesef om in die hede die dag van môre (en só ook die toekoms) aan te raak.

Onderwysers vervul baie rolle. Hierdie rolle sluit onder andere in dié van vakspesialis en fasiliteerder van vakinhoudelike kennis aan leerders. Om hierdie rol effektief uit te voer moet onderwysers ook die bykomende rolle van lewenslange leerders en navorsers inneem. In ʼn vinnig veranderende wêreld is dit noodsaaklik dat onderwyslui bewus bly van die nuutste tendense in hulle onderskeie spesialisasievelde.

Nóg ʼn belangrike taak van onderwysers is dié van effektiewe interpreteerders en implementeerders van die kurrikulum, soos voorgeskryf deur die Departement van Basiese Onderwys. Hierbenewens tree hul ook aktief op as veranderingsagente wat hulle in staat stel om by wyse van die daarstelling van gunstige leeromgewings aan die veelheid van leerders se behoeftes, op welke vlak ook al, te kan voldoen. Binne hierdie gunstige milieu ontsluit oop en betekenisvolle gesprekke, logiese en kritiese denke asook die voortdurende strewe na die ware, die goeie en die skone betekenisvolle leer terwyl toeganklikheid ook bevorder word.

Op die keper beskou dra hierdie holistiese ontwikkelingsbenadering by tot die vorming van leerders se denke én hart (karakter). Hierdie vorming rus leerders toe vir ʼn uitnemende beroepslewe en lei hul terselfdertyd om as verantwoordbare landsburgers hul volwaardige plek in die gemeenskap in te neem. Ten einde effektief te wees behels dié vormingsbenadering voorts dat onderwysers ook die rol van ontwikkelingsafrigters ten opsigte van sosiale, emosionele en etiese bewustheid en vaardighede aanneem.

ʼn Ander baie belangrike rol wat onderwysers vervul is dié van voogde wat veilige ʼn toevlug aan leerders bied tydens skoolaktiwiteite en soms ook nauurs. Hierdie voogdyskap spreek tot ʼn diep toewyding en versterk die vertrouensverhouding en verbintenis wat daar tussen onderwysers, leerders, ouers en die breër gemeenskap bestaan. Dié verbondenheid tot uitnemende opleiding en vorming verteenwoordig die hartklop van onderwysers se roepingsbesef. Laasgenoemde spreek ook voorts tot die ideaal en strewe dat leerders ook in en deur hul toekomstige beroepslewe geroepe sal wees om ʼn lig vir die wêreld te wees.

Akademia spreek vandag sy opregte dankbaarheid uit teenoor alle onderwysers wat die gees van toewyding, verbondenheid en betrokkenheid in hul onderwysgemeenskap uitlééf. Ons salueer julle as pioniers en rentmeesters wat die grondslag lê vir ʼn hoopvolle toekoms. Ons waardeer die rol wat elkeen van julle speel in die vorming van toekomstige leiers en die bou van ʼn sterk en veerkragtige samelewing.

Onderwysers, julle is en doen soveel méér!

Akademia se Fakulteit Opvoedkunde bied aan voornemende studente ʼn keuse tussen twee dinamiese programme op die voltydse kampusmodel, naamlik die BEd (Grondslagfase-onderwys) of die BEd (Intermediêre Fase-onderwys). Indien jy reeds oor ʼn kwalifikasie beskik kan jy die toegespitse Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys) op die nauurse afstandsmodel oorweeg. Studieaansoeke vir die 2025- akademiese jaar word tans ingewag.

Dr. Chris-Mari Le Hanie, dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia, meen Onderwysdag behoort ʼn viering én waardering van die onderskeie vormingsrolle te wees waarmee onderwysers hulself besig.