Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Nuwe jaar, nuwe jy: Hou ons daarby?

Gepubliseer op: 24 Januarie 2022

Geskryf deur Jannet Davel, bestuurder: Personeel en Ontwikkeling by Akademia

Die navorsing is in: minder as 8% van die “nuwe jaar, nuwe jy”-doelwitte wat in Januarie neergepen is, word bereik. Is dit dan dat mens net lui raak as die bladsy omslaan Februarie toe, of is daar iets meer aan die gang?

Elke nuwe jaar dien as ʼn sikliese merker dat dit tyd is om te herevalueer en inventaris van ons lewe te neem. Die behoefte aan nuwejaarsvoornemens is ʼn komma in die tydlyn, waar ons nuwe hoop kan skep vir toekomsverwagtinge en alles wat ons hoop om te bereik. Bedryfshandboeke en navorsingsartikels verwys na SMART-doelwitte om te verseker die voornemens realiseer. In kort beteken dit dat die doelwitte spesifiek, meetbaar, bereikbaar, relevant en tydsgebonde moet wees. Dit alles is waar: as ons nie spesifiek kan wees in realistiese uitkomste nie, sal ons dit nooit kan bereik nie. Tog moet ons ook waak om nie net SMART-metodologiedoelstellings te maak nie.

As mens die SMART-beginsels kan afbreek tot op die been, kom dit neer op een woord: eerlikheid. Wanneer ons eerlik kan wees oor waar ons onsself tans bevind, dat dit opofferings gaan verg om by die einddoel uit te kom, en dat daar dae gaan wees waarop ons gaan faal, is dit makliker om weer op te staan ná ʼn struikelblok. Dit sal verseker dat mens ná Valentynsdag nog vashou aan die voornemens.

ʼn Mens moet eerlik genoeg met jouself kan wees dat jy dalk al vroeër gesukkel het om die doelstelling te verwesenlik, neerpen hoekom jy nog nie daarin geslaag het nie, en dit dan opbreek in kleiner doelwitte. Om jou eie verwagtinge te bestuur en met realistiese eerlikheid na doelstellings te kyk, is dit ook egter belangrik om eerlik te wees of dit ʼn korttermynwen, of langtermyndoelwit is.

Langtermyn-leefstylveranderinge gebeur nie op een gegewe Dinsdagaand nie. Dit is belangrik dat jy ook sukses vir jouself definieer en dat daardie definisie gekoppel word aan jou persoonlike waardestelsel. Vir enige blywende verandering moet ons eerlik genoeg kan wees om te verwoord waarvoor ons staan. Hoe ons dit wil bereik of verander is nie so belangrik soos die eerlike hoekom agter die verandering nie.

Jannet Davel is die bestuurder van Personeel en Ontwikkeling by Akademia met ʼn passie vir mense.