Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Matrieks van 2021, jy het nog kans om vir studie aansoek te doen!

Gepubliseer op: 21 Januarie 2022

Met die matriekuitslae wat pas bekendgemaak is, is daar baie matrieks wat uiteindelik hul skoolloopbaan kan afsluit en met hul loopbaanreis begin. Die meeste hoëronderwysinstellings se aansoeke vir studies in 2022 is reeds gesluit, maar Akademia bied steeds aan skoolverlaters die geleentheid om vanjaar studies in Afrikaans aan te pak.

“Aansoeke vir voorgraadse studie by Akademia sluit vanjaar eers op 31 Januarie 2022 om aan skoolverlaters nog genoeg tyd te bied, veral gegewe ʼn onsekere skooljaar, om te besluit watter studierigting op hul hart druk,” verduidelik Paul Vogel, bedryfshoof by Akademia. Die instelling bied verskeie geakkrediteerde studierigtings oor vyf fakulteite waar studente hul passies vir bepaalde studierigtings kan nastreef. Of jy nou ʼn studierigting in joernalistiek, die regte, bestuursrekeningkunde of onderwys oorweeg, Akademia is die plek vir jou!

Die nauurse onderrigleermodel bied ʼn gerieflike klasrooster ideaal vir skoolverlaters wat graag wil studeer en tegelyk werk of ander belangstellings wil najaag. Klasse vir die model word nauurs by ʼn naaste studiesentrum of via e-leer aangebied. Ongeag jou keuse van klasbywoning, ontvang jy optimale akademiese ondersteuning vanaf dosente en die aanlyn leerbestuursplatform genaamd Die Spens (die aanlyn platform waar jy al jou akademiese leesstof, studiemateriaal en belangrike inligting ontvang).

Indien studente eerder aan ʼn voltydse klaservaring wil deelneem, is daar die opsie om by die Centurion-kampus studies aan te pak. Die kampus bied ʼn kafeteria, kliëntedienssentrum, biblioteek, ʼn koshuiservaring, ʼn ouditorium, asook ander fasiliteite wat studenteondersteuning bied. Hier neem studente deel aan ʼn bruisende studentelewe en draf bedags voltyds klas – dit terwyl hulle lewenslange vriendskappe kweek.

Akademia se jaarlikse eerstejaarskamp is ook altyd een vir die boeke. Elke jaar kom nuwe Fonties (Akademia-studente) van heinde en verre bymekaar om die feestelike kamp by te woon. Dié jaar vertrek studente vanaf 1-4 Februarie na Zwartkloof Privaat Wildreservaat om hulle akademiese reis by Akademia op ʼn hoë noot af te skop. Hier word lewenslange vriendskappe gebou en bande gesmee met medestudente.

Om die sprong vanaf skoolleerder tot studentwees te vernou, het Akademia ʼn waardetoevoegende kursus ontwikkel om, nog voordat klasse afskop, die geleentheid aan studente te bied om die kuns van studentwees baas te raak. Hierdie kursus berei studente voor hoe om werkstukke aan te pak, basiese rekenaarvaardighede onder die knie te kry, asook taal-, skryf-, en navorsingsvaardighede om ʼn suksesvolle akademiese reis aan te pak. Nuut-ingeskrewe studente ontvang gratis toegang tot hierdie nuttige kursus. “Ons glo dat hierdie kursus skoolverlaters nóg beter gaan voorberei voordat hulle met die akademiese jaar begin,” meen Vogel.

Akademia strewe daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar beide die hart en denke gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms. “Dit beteken dat ons as instelling geroepe is om nie net studente met hoogstaande kennis en wysheid toe te rus nie, maar werklik ʼn verskil te maak om ons studente as afgeronde en gevormde graduandi te lewer wat ʼn betekenisvolle bydrae sal lewer in die gemeenskappe waar hulle hulleself bevind.”

Waarvoor wag jy? Kom vind meer uit oor jou voorgraadse studiemoontlikhede by Akademia tydens ʼn aanlyn inligtingsessie wat op Saterdag 22 Januarie vanaf 10:00-11:00 gehou word. Bespreek jou sitplek vir die inligtingsessie op die Akademia-webblad. Andersins kan jy dadelik jou loopbaanreis by Akademia begin deur die maklike aanlyn aansoekproses hier te voltooi. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

Akademia-studente woon die jaarlikse eerstejaarskamp by.
Akademia het studente ʼn keuse tussen voltydse studie by die Centurion-kampus, of nauurse klasbywoning by ʼn landwye netwerk van studiesentrums, of via e-leer.
Studente wat voltyds by Akademia studeer neem deel aan ʼn lewenskragtige studentelewe.