Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

ʼn Metamorfose: Hoe het Covid-19 die onderwys oor ʼn ander boeg gegooi?

Gepubliseer op: 21 Januarie 2022

Geskryf deur dr. Annelie Wassenaar, dr. Maretha Steyn en dr. Annelise de Vries van Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

Unesco het 24 Januarie as Internasionale Onderwysdag verklaar wat jaarliks gevier word, met die hooftema vir 2022 as Koersverandering in Onderwys. Die doel daarvan is om spesifiek innoverende onderwyspraktyk en onderwyshelde, wat steeds te midde van ʼn pandemie onderwys bevorder, te vier.

Die Daily Mirror publiseer op 8 Desember 2021 dat Catherine, die hertogin van Cambridge, een van die grootste lesse wat die Covid 19-pandemie ons geleer het soos volg beskryf: “And through our separation from others we have been reminded just how powerful human connection is to us all … The importance of simply being together …” Sosiale interaksie is die hartklop van onderwys en die weg waarlangs leerders holisties kan ontwikkel. Die Covid-19-pandemie het leerders egter van sosiale interaksie met hul portuurgroep weerhou. Derhalwe moes onderwysers op innoverende en bekostigbare wyses verwelkomende en inspirerende leeromgewings skep en hul lesaanbiedings aanpas. Dit het beslis die koers van onderwys verander en daartoe gelei dat meer skole daartoe verbind is om fisiese ruimtes te skep waarbinne leerders kan sosialiseer en onderwysers hul vir die lewe kan voorberei.

Die Verenigde Nasies het sedert 2020 hulde gebring aan die helde van die Covid-19-pandemie. Naas gesondheidswerkers is onderwysers, in die tweede posisie, vereer vir hul volgehoue toewyding en innoverende onderwyspraktyke te midde van grendelperiodes, streng gesondheidsmaatreëls en die risiko om self die virus op te doen.

Vindingryke metodes om kennis oor te dra, leerders gemotiveerd te hou en sosiale interaksie te stimuleer is van meet af geïmplementeer en die teoretiese aspekte van versnitte leer (blended learning) het wêreldwyd vir die eerste keer werklik gestalte in die praktyk verkry. Versnitte leer is ʼn benadering tot onderwys wat aanlyn opvoedkundige materiaal en geleenthede vir virtuele interaksie met tradisionele plekgebaseerde klaskamermetodes kombineer. Die fokus bly steeds die holistiese ontwikkeling van die leerder. Hierdie praktyke is nie nuut nie. Voor die pandemie was versnitte leer ʼn keuse maar nou het dit onontbeerlik geword. Onderwysers het die beste praktyke van hierdie onderrigbenadering suksesvol omarm ‒ sommige met baie beperkte tegnologiese en finansiële hulpbronne tot hulle beskikking ‒ en het instinktiewe baanbrekerswerk verrig wat die koers van onderwys ten goede verander het.

Die doel van opvoeding is nie slegs vir leerders om kennis te verwerf nie. Om leerders te onderrig en holisties op te voed vir die lewe, om beter mense te word, word die hooffokus met die implementering van volhoubare innoverende onderwyspraktyke.

Lewenslesse aan leerders oorgedra deur onderwysers, word vergelyk met saad wat met die verloop van tyd bome word. Elke leerder kan as ʼn saad beskou word met unieke eienskappe. Hoe meer water, sonlig en aanmoediging die leerder ontvang, hoe meer groei daardie saad. Die taak van onderwysers is nie net om die kurrikuluminhoud te onderrig nie, maar om ook die besmoontlike potensiaal in elke leerder te ontsluit ten einde elkeen toe te rus om hul skeppingsdoel optimaal te bereik. Onderwysers onderrig nie net vir die hede nie, maar vir ʼn beter toekoms.

Tydens die viering van Internasionale Onderwysdag, word erkenning gegee aan onderwysers as leerhelde van die Covid-19-pandemie. Daar is opnuut ʼn bewustheid van die waarde van gehalteonderwys en volgehoue aanwending van innoverende onderwyspraktyk, om in klaskamers of virtuele studieruimtes, toenemende vrede en ontwikkeling wêreldwyd mee te bring.

Dr. Annelie Wassenaar is die departementshoof van Professionele Studies en programkoördineeder van die NGOS-kwalifikasie by Akademia.
Dr. Annelise de Vries is ʼn dosent in Afrikaans Huistaal-onderwys en Afrikaans as Taal van Onderrig en Leer by Akademia.
Dr. Maretha Steyn is die programkoördineerder van die BEd-kwalifikasies by Akademia en dosent in Kurrikulumstudies.