Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-alumnus spog met eerste enkelsnit en musiekvideo

Gepubliseer op: 20 Januarie 2022

Carlissa Kuun, ʼn Akademia-alumnus in BCom (Bestuursrekeningkunde) en die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys), het onlangs haar onderwysloopbaan by Punt Hoërskool afgeskop terwyl sy ook ʼn opwindende sangloopbaan nastreef.

In 2019 het Kuun ʼn oudisie gedoen vir Sing Aanlyn!, waarna sy toe vir ʼn jaar lank lesse gekry het by van Suid-Afrika se beste kunstenaars. “Hierdie kursus het my gemotiveer om ʼn enkelsnit vry te stel,” vertel sy. Hierdie droom is toe bewaarheid en haar eerste snit, Ek sal die een wees, is op 10 Desember 2021 amptelik vrygestel. “Ek is aangenaam verras met die reaksie tot dusver en is baie opgewonde om te sien wat voorlê.”

Kuun noem dat hulle vyf kinders is wat almal lief is vir sing en musiek oor die algemeen. “Musiek is definitief ʼn liefde in ons huis, maar ook in die breër familie.” Kitaar, klavier, orrel en ukelele is onder die musiekinstrumente wat deur haar familielede bespeel word.

“Ek dink die mees uitdagende deel van die musiekbedryf is om jouself kwesbaar te maak omdat musiek so ʼn persoonlike ding is om te doen, maar ek dink dit is in dieselfde asem ook die lekkerste deel daarvan. Dit is absoluut bevrydend wanneer ek sing of musiek maak,” noem sy.

Kuun deel dat sy gekies het om BCom (Bestuursrekeningkunde) by Akademia te studeer aangesien sy nauurs en in Afrikaans kon studeer. Dit het haar die geleentheid gebied om haar ander drome, soos haar sangloopbaan, ook na te jaag. Aangesien sy nauurs by Akademia studeer het, voel sy dat sy baie van haarself in die proses kon leer en sy noem dat sy vinnig in voeling gekom het met hoe om selfstandig te studeer terwyl jy werk. “Ek het floreer by Akademia en my liefde en trots vir Afrikaans het gegroei,” sê sy.

Sy was ook een van Akademia se eerste studenteraadslede wat vir haar ʼn spesiale eer was. Sy noem dat dit veral besonders was omdat sy deel van Akademia se beginjare kon wees. “Studente wat lief is vir Afrikaans en ʼn Afrikaanse kultuur het, moet dit oorweeg om by Akademia te studeer. Mens dink, vorm gedagtes en droom in jou moedertaal, daarom is moedertaalonderrig so belangrik.”

Haar volgende droom is om ʼn paar gospel-enkelsnitte uit te bring en ook aan te hou om in Mosselbaai skool te gee en met kinders te werk. Kuun se enkelsnit, Ek sal die een wees, is beskikbaar op alle digitale platforms en die musiekvideo kan hier gekyk word. Akademia wens haar alle voorspoed toe met beide haar opwindende loopbaanreis in onderwys en haar sangloopbaan.

Carlissa Kuun is ʼn Akademia-alumnus wat onlangs haar eie enkelsnit vrygestel het. Luister die enkelsnit hier.