Search
Close this search box.

Nasionale Boekweek: ʼn Viering van die rykheid en veelheid wat boeke ontsluit

Gepubliseer op: 5 September 2024

Geskryf deur Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia.

Elke jaar kondig die koms van lente in Suid-Afrika ook die begin van Nasionale Boekweek aan. Dié geleentheid, wat vanjaar van 5 tot 11 September plaasvind, het dit ten doel om Suid-Afrikaners meer te laat lees óf aan die lees te kry. Vanjaar verteenwoordig die vyftiende bestaansjaar van hierdie inisiatief wat deur die Departement van Kuns en Kultuur in samewerking met die Suid-Afrikaanse Boekontwikkelingsraad (SABDC) begin is.

Gedurende hierdie week word die kalklig opnuut op die waarde van boeke geskyn, en vier oud en jonk die rykheid en veelheid wat tussen die bladsye van boeke gevind kan word. In die lig hiervan verteenwoordig boeke daarom soveel méér as bloot net die draers van kennis. Boeke bewaar kultuurerfenis, moedig kreatiwiteit en verbeelding aan, bring gemeenskappe bymekaar rondom gedeelde ervaringe en drome, en kweek ʼn diepgaande bewustheid oor die wêreld waarin ons onsself bevind.

Boekwaarde kan natuurlik ook in rand en sent uitgedruk word. Laasgenoemde is veral die geval waar publikasies as gevolg van ouderdom, skaarsheid of hul verbintenis tot noemenswaardige historiese figure of gebeurtenisse waarde toevoeg. Dink maar net aan versamelaars wat passievol na beperkte uitgawes of getekende kopieë soek wat aansienlike bedrae op veilings kan behaal.

Die Akademia-mediasentrum huisves verskeie sulke waardevolle publikasies en boekversamelings. Een hiervan is dié van prof. Edith Raidt wat ʼn beraamde waarde van R1,1 miljoen het. Hierdie versameling sluit onder meer twee volumes van die skaars boek Aenleiding tot de kennisse van het verhevene deel der Nederduitsche sprake in, wat in 1723 gepubliseer is. Raidt word wêreldwyd erken as een van die mees gerekende Afrikaanse taalkundiges nóg en het in 2023 haar versameling van meer as 800 publikasies aan Akademia geskenk. Ander spesiale versamelings sluit in die Johan Olivier-versameling (hofverslae), die Joost van den Vondel-versameling, die dr. Natie van Vuuren-versameling, die NP van Wyk Louw-versameling en die Nongqai-argief.

 

Die eksemplare van die boek: Aenleiding tot de kennisse van het verhevene deel der Nederduitsche sprake wat in die Akademia-mediasentrum gehuisves word. Dié boeke vorm deel van die prof. Edith Raidt-versameling.

 

Biblioteke en mediasentrums speel ʼn belangrike rol tydens Boekweek, veral wat gemeenskapsbetrokkenheid betref. In hierdie verband kan ʼn liefde vir lees aangewakker word deur byvoorbeeld leesuitdagings te organiseer, boekbesprekings te hou – wat terselfdertyd ʼn lansie breek vir skrywers en uitgewers, asook storievertellings vir kinders. Ander praktiese idees sluit in boekuitstallings, die bemarking van nuwe publikasies en die herbekendstelling van klassieke literatuur en bekroonde titels.

Boekklubs is nóg ʼn manier waarop individue leesgemeenskappe kan vorm in ʼn ruimte wat sosiale interaksie bevorder. Die rol en funksie van ʼn boekklub verskil van groep tot groep, maar oor die algemeen is die hoofdoel ʼn viering van boeke, die kreatiewe skryfproses en die vernuf waarmee skrywers die storievertelproses fasiliteer. Hierdie gestruktureerde benadering help om lees ʼn daaglikse gewoonte te maak, terwyl dit terselfdertyd ʼn geleentheid bied vir blootstelling aan uiteenlopende literêre ervarings. Op die koop toe bevorder deelname aan diesulke gesprekke lede se kommunikasievaardighede en kritiese denke.

Akademia se personeelboekklub ontmoet kwartaalliks om boeke oor verskeie genres heen te bespreek. Skrywers word dikwels na hierdie gespreksessies genooi. Meer onlangse gaste sluit in Dominique Botha, Sophia Kapp en prof. Fransjohan Pretorius.

Die Akademia-mediasentrum wat op kampus geleë is, het sy deure op 4 Januarie 2021 oopgemaak en bied sedertdien ʼn leestuiste vir die Akademia-gemeenskap. Die mediasentrum is voorts nougeset verbind tot voortgesette uitnemendheid – nie net wat toegang tot inligtingsbronne betref nie, maar ook in die lewering van professionele ondersteuning.

Lianda Coetzer, Akademia se bibliotekaris, meen Boekweek is die ideale geleentheid om die veelheid en rykheid wat tussen die bladsye van boeke opgesluit lê te vier.