Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-mediasentrum ontvang kosbare Joost van den Vondel-skenking

Gepubliseer op: 24 Mei 2021

Akademia ontvang onlangs die versamelde werke van Joost van den Vondel, bekende Nederlandse digter uit die Goue Eeu. Tydgenote het Van den Vondel die “prins van digters” genoem, en hierdie waardevolle skenking is ʼn groot aanwins vir Akademia se mediasentrum.

Van den Vondel het ʼn ryke geskiedenis. Sy ouers vlug uit Antwerpen na Keulen, waar hy in 1587 gebore word. Hy word Protestants groot (hoewel hy later in die Katolisisme meer tuis gevoel het) en leer homself Grieks en Latyn, bronne waaruit hy sy lewe lank sou put en wat hy in die vorm van vertalings vir die wyer Nederlandse publiek toeganklik sou maak. Dit het lank geneem voordat sy skryfwerk wasdom sou bereik, maar gelukkig het hy ʼn lang lewe gelei – hy sterf op die rype ouderdom van 91, en beleef dus die grootste deel van die Nederlandse Goue Eeu.

Onder Van den Vondel se werke word sy toneelstukke die hoogste geprys, soos byvoorbeeld Gijsbrecht van de Aemstel om maar een te noem. Dit neem die tema van een van die ou krygshelde van Amsterdam op en vermeng die narratief met Vergilius se Aneius, maar giet dit in die vorm van die Middeleeuse Christelike misteriespel, waarin die karakters nie aan die noodlot oorgelaat word nie, maar aan God se wil.

Uit Van den Vondel se werk is ʼn eenvoudige lykdig egter die een wat die beste in die volksmond behoue gebly het. Dit handel oor sy seuntjie, Constantijn, wat hy op ʼn jong ouderdom aan die dood afgestaan het. In hierdie gedig is die seuntjie vanuit die hemel in kinderlike rymtaal aan die woord:

Kinder-lyck

Constantijntje, ’t zalig kijntje,
cherubijntje, van omhoog
d’ ijdelheden hier beneden
uitlacht met een lodderoog.
Moeder, zeit hij, waarom schreit gij,
waarom greit gij op mijn lijk?
Boven leef ik, boven zweef ik,
engeltje van ’t hemelrijk.
En ik blink er, en ik drink er
’tgeen de schinker alles goeds
schenkt de zielen, die daar krielen,
dertel van veel overvloeds.
Leer dan reizen met gepeizen
naar paleizen, uit het slik
dezer werreld, die zo dwerrelt.
Eeuwig gaat voor ogenblik

Akademia ontvang graag boeke om die mediasentrum met waardevolle skatte te vul. As jy weet van nog boeke wat vir die toekoms bewaar kan word, kontak Akademia gerus deur hier te klik.

Lianda Coetzer (middel), bibliotekaris by Akademia, ontvang die kosbare Vondel-versamelboeke wat onlangs aan Akademia geskenk is. Teenwoordig is dr. Hercules Boshoff (links) en prof. Pieter Duvenage (regs), dekaan: Fakulteit Geesteswetenskappe.