Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia se BA (Kommunikasie en Joernalistiek) baan die weg vir wêreldklas kommunikasiekundiges

Gepubliseer op: 24 Mei 2021

Geskryf deur dr. Alé Steyn, Departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia

Die voltydse kontakprogram BA (Kommunikasie en Joernalistiek) in die Departement Tale en Kultuurwetenskappe word vanjaar vir die eerste maal op Akademia se Centurion-kampus aangebied. Die program fokus op drie strome, naamlik joernalistiek, kommunikasiebestuur en korporatiewe media.

Akademia beoog met hierdie program om joernalistiek- en kommunikasiestudente af te lewer wat die behoeftes in die bedryf vul, in staat is om nagraadse studies suksesvol te voltooi by enige instelling van hul keuse, uitstekend met hul eweknieë te kan meeding, en oor hoë-orde vaardighede beskik. In die program word daar nie net sterk klem op die teoretiese onderbou gelê nie, maar ook op akademiese, visuele en mediageletterdheid en praktiese vaardighede soos skryfwerk, publikasieontwerp- en bestuur, en subredigering. Daar word deurlopend daarop gefokus om teorie en praktyk te versoen en studente af te lewer wat integriteit het, verantwoordbaar is, en oor kritiese vaardighede en onderskeidingsvermoë beskik. Daarby word Akademia se opvoedingsideaal gevoeg, waar die doel is om nie net die beste tegniese opleiding te verskaf nie, maar ook om studente as opgevoede en deugsame mense die wêreld in te stuur.

Die modules in hierdie program fokus onder meer op kommunikasie vir sosiale verandering, skryfwerk en redigering vir die media, asook openbare skakeling, bemarkingskommunikasie, digitale media, publikasie- en webbladontwerp, kommunikasiebestuur en multimedia-joernalistiek. Studente kry ook deur die loop van hierdie program heelwat blootstelling aan die praktyk in die vorm van internskap- en mentorskapprogramme, en sal aan die einde van hul derde studiejaar kan spog met ʼn portefeulje van hulle werk. Daarbenewens nooi ons ook kundiges in die bedryf om gaslesings en werkswinkels aan te bied.

Akademia se kommunikasie- en joernalistiekstudente sal in die niewinsgewende óf winsgewende sektor kan werk, asook in druk-, uitsaai- of digitale media. Graduandi van hierdie program sal oor die kennis en vaardighede beskik om ʼn wye verskeidenheid beroepe in die media- en kommunikasiebedryf te beoefen, insluitende velde soos korporatiewe kommunikasie, bemarking, mediaskakeling en joernalistiek.

Akademia mik uiteindelik daartoe om in hierdie program vaardige joernaliste en kommunikasiepraktisyns op te lei wat in staat is om die uitdagings van hierdie dinamiese bedrywe te hanteer en positiewe en volhoubare ontwikkeling in hulle gemeenskappe kan fasiliteer.

Dr. Alé Steyn, Departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe aan Akademia