Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

ʼn Ode aan alle moeders op Moedersdag

Geskryf deur Anien van Niekerk, joernalis by die Fontiepos

Wanneer mens jou ouerhuis verlaat, is die moeilikste ding seker om afskeid te neem van jou ma. Letterlik en figuurlik. Letterlik, omdat sy nog vir jou instruksies gee oor hoe om ʼn wasmasjien te gebruik voor jy in die motor klim. Figuurlik, omdat jy weet dat geen kos wat jy gaan eet totdat jy weer huiswaarts keer, kompetisie sal wees vir dit wat sy maak nie. Ma’s en alle moederfigure is ʼn spesiale geskenk wat God aan ons geskenk het om die lewe ʼn bietjie makliker te maak.

As studente is ma’s vir ons baie belangrik. Hulle is bereid om vir ure oor die foon te luister terwyl ons ons bekommernisse deel oor toetse, vriende en lewenskeuses. Ma’s is gewoonlik die eerste persone vir wie ons bel in ʼn noodgeval of as ons iemand nodig het om mee te gesels ná ʼn moeilike dag.

As jy ʼn pakkie koekies of medisyne kort, weet jou ma dit instinktief, en maak sy seker daarvan dat dit so vinnig moontlik by jou uitkom. ʼn Ma se skoot is nooit te vol vir haar kinders nie en soos die sangeres Taylor Swift in haar liedjie “Best Day” sing, is ons ma’s vir ʼn groot deel van ons lewens “…the prettiest lady in the whole wide world”.

Moedersdag is die een dag van die jaar om hierdie stil heldinne in ons lewens te vier en te bederf. Moedersdag word gewoonlik in Suid-Afrika op die tweede Sondag in Mei gevier, wat vanjaar op 14 Mei geval het. Moedersdag bied ons die geleentheid om aan ons ma’s te wys hoeveel ons hulle waardeer. Die hoofdoel van Moedersdag is om kwaliteit-tyd met jou ma te spandeer.

Baie Fonties het waarskynlik vanjaar hulle ma’s of die moederfigure in hulle lewens verras met koffie of ontbyt in die bed. Hierdie is maar klein dingetjies in vergelyking met dit wat ons ma’s vir ons elke dag doen, maar dit is tog baie belangrik.

Onthou dus wanneer dit weer Moedersdag is, dit maak nie saak wat julle besluit om te doen nie, maak seker dat julle ʼn oomblik neem om die saamwees te waardeer. Foto’s en collages is van die beste maniere om hierdie oomblikke vas te vang om jare van nou af te onthou.

So doen jouself ʼn guns en neem voor volgende Moedersdag ʼn paar “in die oomblik”’-foto’s van jou en jou ma. As jy dit nie vanjaar kon doen nie, verklaar jou eie Moedersdag en skep spesiale herinneringe saam met jou ma.

Twee Fonties deel foto’s van hul ma’s ter viering van Moedersdag.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.