Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

ʼn Brief aan my alma mater

Gepubliseer op: 7 April 2022

Om te studeer is ʼn reis. Jy staan douvoordag op, laai die bagasie, maak seker daar is genoeg brandstof in die tenk en is kinderlik opgewonde oor die avontuur wat voorlê. Wanneer die brandstof min en die wiele pap raak, is ʼn halfwegstop en padkos presies wat nodig is om die pad weer aan te durf. Kameras vang die prentjiemooi oomblikke vas en die belangrikheid van die mense wat saam met jou by die bestemming arriveer, is van onskatbare waarde.

ʼn Paar praktiese wenke om in jou tas te pak vir die reis vorentoe:

  • Wees wie jy is. Die gebeure in jou lewe speel ʼn daadwerklike rol om wie jy is te vorm. Wees versigtig om te probeer inpas terwyl jy gemaak is om uit te staan.
  • Wees aanpasbaar. In jou loopbaan, in jou studies, in jou verhoudings en in dit wat jy aanpak.
  • Wees verantwoordbaar. Neem eienaarskap van jou take en menseverhoudinge; maak jou unieke afdruk.
  • Wees in geloof geanker. Weet waar jou krag vandaan kom en moenie skroom om daarvan gebruik te maak nie.

 

Die woorde van C.J Langenhoven “jou kind sal sy geleerdheid nog by die skool agterlaat, maar sy opvoeding sal hom vergesel tot in die graf” spreek boekdele van die belangrike rol wat ʼn ambassadeur van Akademia in die gemeenskap speel. Die onus rus op ons om Afrikaans uit te leef, om roepinggedrewe besluite te neem en om ʼn baken van hoop te wees.

As alumnus kan ek terugkyk met die wete dat die reis by Akademia my voorberei het vir ʼn rooskleurige toekoms. Ek is dankbaar vir baie, maar veral vir die instelling. Dankbaar vir bekwame dosente en mentors wat weer brandstof in die tenk gesit het toe dinge moeilik raak. Dankbaar vir netwerkgeleenthede en kennisse wat ek in my werktassie kon pak. Dankbaar vir gehalte onderrig wat nagraadse studies soos tweede natuur laat voel het. Dankbaar vir opvoeding wat eienskappe van roepinggedrewenheid en uitnemendheid by my gekweek het. Dankbaar vir hartsmense wat saam met my die bestemming bereik het en vandag steeds sorg vir avonture.

My laaste raad vir die reis wat voorlê – pak lig, leef lig en wees lig!

VIVAT Afrikaans!

Minette Nel

BCom (Ondernemingsbestuur), klas van 2019

Minette Nel is ʼn trotse alumnus van Akademia en het in 2019 haar kwalifikasie in BCom (Ondernemingsbestuur) behaal.