Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die waarde van nuwe tale

Gepubliseer op: 6 April 2022

Geskryf deur Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia

Ek is te oud om ʼn nuwe taal aan te leer. Dit is dikwels die verskoning wat aangevoer word hoekom mense skrikkerig is om ʼn nuwe taal aan te pak. Dan het ek vandag vir jou goeie nuus (en jy het dit eintlik nog altyd geweet). Jy is nooit te oud om te leer nie. Daar is die mite dat moeitelose taalaanleer aan ouderdom gekoppel is. Jy leer nie makliker of moeiliker ʼn taal aan as jy ouer is nie. Jy leer taal net anders aan.

Ek lig graag ʼn paar voordele van die taalaanleerproses uit: ʼn Langer aandagspan, empatie, beter gesondheid en oop deure.

Kom ons wees maar eerlik met mekaar – ons aandagspan is maar kort. Volgens ’n studie deur Microsoft vaar ons slegter as goudvisse. Een van die maniere waarop ons ons aandagspan kan verleng, is deur nuwe ʼn nuwe taal aan te leer. Mense wat meertalig is, konsentreer makliker as eentaliges.

Volgens professor Antonella Sorace van die Universiteit van Edinburgh is tweetalige kinders se emosionele ontwikkeling beter as eentalige kinders. Die aanleer van nog ʼn taal help jou om op ʼn ander manier na die wêreld en ook na mense te kyk. Dit klink dalk vreemd, maar die aanleer van ʼn taal gee ons meer empatie.

Meertaligheid hou ons breine soepel en mag demensie vir ʼn paar jaar terughou. Ons skep met die aanleer van die taal nuwe paadjies in ons brein. Belê dus in jou geestesgesondheid en leer nog ʼn taal aan.

Die beste voordeel bly vir my dat tale deure oopmaak. Enkele persoonlike voorbeelde: Ek is op ʼn keer in Griekeland in Duits gehelp toe ons verdwaal het (niemand kon ons aanwysings in Engels gee nie). Op grond van my Poolse kennis het ek ʼn beter kamer in ʼn gastehuis in Tsjeggië gekry.

Soms maak ander tale ook letterlik deure oop. ʼn Poolse vriendin vertel my van die keer toe sy saam met haar vriende vir ʼn vakansie Georgië toe gevlieg het (dit is nou nie die staat in die VSA nie, dit is die land suid van Rusland). Op die vliegtuig vra die lugwaardin wie van hulle Engels kan praat. My Pools vriendin dui toe aan dat sy Engels kan praat. Daar kry hulle toe ʼn sitplek met ruim spasie by die nooduitgang. (Blykbaar moet die passasiers by die nooduitgang opdragte in Engels kan verstaan.) Dit is vir my ook ietwat vreemd dat opdragte in Engels gegee moet word as die vlug (in ʼn Hongaars vliegtuig) tussen Pole en Georgië is, maar in hierdie geval maak vreemde tale soos Engels tog deure oop.

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia en skryf en lees ook graag in verskeie tale.

Bronne:

Kamanetz, A. 2016. 6 Potential Brain Benefits Of Bilingual Education. http://www.npr.org/sections/ed/2016/11/29/497943749/6-potential-brain-benefits-of-bilingual-education [Datum van gebruik: 17 Maart 2022].

McSpadden, K. 2016. 6 You Now Have a Shorter Attention Span Than a Goldfish. http://time.com/3858309/attention-spans-goldfish/ [Datum van gebruik: 17 Maart 2022].