Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Die impak van inflasie op lewenskoste

Gepubliseer op: 4 April 2022

Die oorlog wat Rusland in Oekraïne geïnisieer het, raak ons almal; veral op ekonomiese gebied. Asof ons nie alreeds voos geslaan is deur die ekonomie nie, wil dit voorkom asof inflasie weghol. Inflasie, oftewel die kontinue toename in pryse, is ʼn bekommernis vir almal. Energiebronne is ʼn belangrike inset vir alle produsente en weens die geopolitieke spanning met die oorlog, sal pryse van baie produkte verhoog. Vervoerkoste beslaan byna 15% van die inflasiemandjie op sigself (sien tabel hieronder). Daarbenewens sal die petrolprys ook die meeste ander items in die inflasieberekening beïnvloed. Dit beteken dat die inflasiekoers wat teen 5,7% in Januarie en Februarie alreeds naby die boonste punt van die teikenband van 3-6% was, nog verder sal verhoog – veral indien die oorlog ʼn uitgerekte gebeurtenis is.

Dit is egter belangrik om te besin of die verhoging in pryse langdurig gaan wees aangesien dit is waarna die beleidsmakers kyk indien hulle die rentekoers sal aanpas. Die inflasieteikenmodel is ʼn vooruitskattingsmodel omdat die instrument wat hul gebruik om inflasie te beheer, naamlik die rentekoers, eers oor 18-24 maande die gewenste uitwerking het. Indien inflasie wel vir ʼn periode die teikenband oorskry, sal die Reserwebank weer genoop word om die rentekoerse te verhoog (die terugkoopkoers is nou 4,5 persent en prima-uitleenkoers 7,75%). Alle verbandlenings en skuldafbetalings sal dus toeneem.

Ons sal almal ons begrotings moet aanpas, dit is veral die arm huisgesinne wat die meeste ly weens inflasie. Jan en alleman sal hul besteding moet inkort en byvoorbeeld nie meer inkopies by duur winkels doen nie, maar eerder ander kettingwinkels besoek en goedkoper kos koop. Daarby sal ons twee maal dink oor vakansiebestemmings, aangesien brandstof nou ʼn beduidende effek op ons begrotings het. Besighede sal ook hul bestedings inperk en investering sal daaronder ly. Dit sal dan tot gevolg hê dat inflasie sal afneem. Alhoewel dit wil voorkom asof ons wel goeie oeste sal kry, word pryse internasionaal bepaal en het hierdie oeste ʼn klein effek op die internasionale voedselprys.

Ongelukkig is dit nie moontlik om eksterne gebeurlikhede soos die duur van die oorlog en gepaardgaande probleme te beheer nie. Die ekonomie word nadelig getref en ekonomiese groei bly ook in die weegskaal. Dit beteken dus dat ons met hoër inflasie en laer ekonomiese groei getref word en die gevaar van stagflasie in die gesig staar – aangesien werkloosheid ook nou histories hoog is. Verlede week is aangekondig dat die werkloosheidkoers nou 35,3 persent beloop (derde kwartaal 2021). Dit is veral die jeugwerkloosheid wat kommer wek en meer as 66 persent beloop. Dit is ʼn potensiële tydbom wat sosiale probleme kan veroorsaak. Daarby is daar ook die strukturele probleme in ons ekonomie soos onvoldoende energievoorsiening en swak omstandighede vir ons besighede wat ons moet bestuur. Ons hoop en bid dat die geopolitieke probleme spoedig tot ʼn einde sal kom en dat ons in staat sal wees om ons ekonomie vir die toekomstige generasie te bou.

Natuurlik is dit verblydend dat die president Ramaphosa die ramptoestand afgelas het. Hopelik sal ekonomiese aktiwiteite spoedig kan herstel wat positiewe sentiment en besigheidsvertroue sal stimuleer.

Gewigte van die verskillende inflasie-kategorieë volgens Statistiek Suid-Afrika (COICOP-kategorie stedelike indeks van 2019):

Dr. Sandra Adendorff is ʼn passievolle dosent in Ekonomie en Internasionale Handel aan Akademia en kenner op die gebied van ekonomie.