Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

“Pionierswerk” vind ʼn tuiste by Akademia

Gepubliseer op: 18 Maart 2022

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling, Akademia, vier vanjaar ʼn dekade van pionierswerk. Ter viering van hierdie groot mylpaal het die instelling die woord “pionierswerk” in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) aangekoop. Die instelling besit nou tans vyf woorde in die WAT, naamlik pionierswerk, alumni, studentelewe, dekaan en universiteit.

Dr. Theuns Eloff, vriend van Akademia, vertel dat hy aan twee woorde dink wanneer hy die woord pionierswerk hoor, “voorloop” en “nuut”. Hy meen dat dit presies is wat Akademia doen en hoe die instelling dink. “In die konteks van die Afrikaanse hoër onderwys wat onder druk is by die histories Afrikaanse universiteite, was die totstandkoming van Akademia bloot pionierswerk.”

As voorsitter van die Trust van Afrikaanse Onderwys verstaan hy die unieke omgewing waarin Akademia funksioneer. Hy noem dat vir hom ʼn riem onder die hart is om te sien dat Akademia nie net ʼn blote Afrikaanse universiteit is nie, maar dat dit ʼn moderne instelling is waarvan die kurrikulum aanpas by die eise van die tyd. “Benewens dat dit Afrikaans is, is dit ʼn instelling wat spreek van hoë standaarde. Dit is wonderlik om te sien hoe Akademia ʼn studentelewe en gesonde studente-ervaring bied soos die wat hulle ouers nog geken het.”

Hy noem dat alhoewel Engels die taal van handel is wat imperialisties afgedwing word, is daar internasionaal ʼn sterk besef van die waarde van moedertaalonderrig. “Die Suid-Afrikaanse regering is bekommerd dat moedertaalonderrig verdelend mag wees, en hulle beskou Engels as ʼn taal van vereniging. Engels is nie die beste opvoedkundige oplossing nie, want kinders se kognitiewe ontwikkeling is die beste in hulle moedertaal.” Hy noem verder dat dit die ideaal is dat die moedertaal ten minste tot in graad 6 gebruik word en vir tale soos Afrikaans, is dit ideaal tot met die eerste B-graad. “Akademia is in hierdie opsig nie net pioniers vir Afrikaans nie, maar ook vir die ander moedertale regoor die land en selfs kontinent.”

Hy sien Akademia oor vyf jaar as ʼn lewenskragtige universiteit met oor die 6 000 studente wat ʼn groot verskeidenheid kwalifikasies aanbied. Hy dink ook dat daar verskeie sentrums oor die land gaan wees wat ʼn studietuiste vir 10 000 studente kan bied aangesien die behoefte vir Afrikaanse onderrig nie minder gaan word nie.

“Akademia is nie net ʼn universiteit nie, maar dit is ook ʼn kultuurtuiste. Ek is opgewonde oor die simboliese waarde van die toekomstige omvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria – vir moedertaalonderrig en as ʼn universiteit in eie reg,” sluit hy af.

Dr. Theuns Eloff is ʼn kenner op die gebied van Afrikaanse onderwys en ook ʼn vriend van Akademia. Hy deel sy mening oor Akademia se dekade van pionierswerk.