Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-koor skop 2022 op ʼn hoë noot af

Gepubliseer op: 7 April 2022

Die jaar 2022 het vir die Akademia-koor op ʼn hoë noot afgeskop met gereelde kooroefening, bykomende nuwe stemme wat tydens oudisies gekies is, en ʼn prettige kroegkoorgeleentheid (oftewel “bar choir”) wat saam met die Vox Chamber Choir aangepak is.

Die Akademia-koor se getalle het vanjaar gegroei met 32 lede vanaf 12 lede verlede jaar. Franco Prinsloo, koordirigent, sê dat die koorlede meer as verdubbel het sedert 2021 en dat die droom nou is om die koor verder te laat ontwikkel en te laat groei.

Hy is opgewonde oor die toekoms van dié koor, aangesien hy beoog om ’n Akademia-koorfees in 2022 aan te bied. “Die koor het ʼn lieflike repertorium hierdie jaar. Dit bestaan uit ʼn kombinasie van geestelike en Afrikaanse koorwerke – beslis unieke stukke wat almal sal geniet,” vertel hy.

Prinsloo noem dat die deelname aan die kroegkoorgeleentheid ʼn hoogtepunt op die kalender tot dusver was. By dié sosiale geleentheid het die Akademia-koorlede by ʼn gunstelingrestaurant opgedaag, ʼn drankie geniet, en saam die publiek, koshuisinwoners en ander kore die bekende lied “African Dream” van Vicky Simpson geleer en gesing. “Baie sangers wat nog nooit gesing het nie, het hier die geleentheid gekry om saam met ʼn groot verskeidenheid van ons samelewing musiek te maak,” vertel hy verder. Kyk die spesiale optrede hier.

“Die ‘bar choir’ was definitief ʼn geleentheid vir die boeke en iets wat ek nooit sal vergeet nie,” sê Megan Meyer, SR-lid van Akademia en koorlid. “Die tradisionele liedjie het my so eg Suid-Afrikaans laat voel en om dit met ander mense te kon deel, het my so tuis laat voel. Die harmonie en eenheid wat dit gevorm het, het my weereens laat besef dat koor die plek is vir my en elke Fontie wat graag wil sing.”

Min of meer 40 minute later ken ʼn hele kroeg ʼn vyfstemmige koorwerk, en sing dit dan almal gesellig saam, vertel Prinsloo. “Later vanjaar vind die geleentheid weer plaas. Dit is nou al ʼn tradisie vir die Akademia-koor”, sê Prinsloo. Maak seker dat jy dit nie misloop nie!

Die Akademia-koor is ʼn wonderlike gemeenskap waar Fonties en personeel kan groei. Dit is harde werk om goeie musiek saam te maak, maar belonend. Die koor geniet die oefeninge geweldig, vertel Prinsloo. Vir sommige koorlede voel die Akademia-koor soos familie. “Dit is hoendervleis-lekker! Ek voel skoon of ek iets mis as ek die dag nie koor kan maak nie,” vertel Lindy Steyn, ʼn studentewerwer by Akademia en koorlid.

Nog ʼn nauurse student in LLB, Elsje Saayman, reken dat sy gedink het dat sy nie noodwendig by ʼn voltydse studentekalender sou kon inskakel nie, maar noem dat die koor alles vir haar verander het. “Die koor bied die geleentheid om ʼn mens meer deel te maak van ʼn studentelewe, om nuwe mense te ontmoet, en om nuwe ervarings te skep, asook om in eenheid met mekaar te wees,” sê sy.

“Om nuwe familielede by te kry is besonders. Om te kan sing is ʼn voorreg! Sang het ʼn manier om jou hart warm te maak en om saam met die Akademia-koor te sing maak jou hart vol,” vertel Marisha Herman, SR-lid van Akademia en koorlid.

Kyk uit vir die volgende kooroptrede, want die Akademia-koor bekoor behoorlik!

Franco Prinsloo, koordirigent van Akademia, het groot planne vir dié koor. “Baie sangers wat nog nooit gesing het nie, het hier die geleentheid gekry om saam met ʼn groot verskeidenheid van ons samelewing musiek te maak,” vertel Prinsloo.
Die Akademia-koor se heel eerste kooroefening in 2022. “Ek is opgewonde vir wat voorlê vir 2022,” vertel Franco Prinsloo, koordirigent van Akademia.