Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Die publiek is in die duister oor die ramptoestand

Gepubliseer op: 12 April 2022

President Cyril Ramaphosa het uiteindelik op Maandag 4 April 2022 die amptelike ramptoestand beëindig wat sedert 27 Maart 2020 weens die Covid-pandemie geheers het. Die beëindiging van die ramptoestand beteken dat die Wet op Rampbestuur 57 van 2002 en die regulasies wat van tyd tot tyd in terme daarvan afgekondig is om die vlakke van rampbestuur te reguleer nie meer van toepassing is nie.

Alhoewel dit goeie nuus is, is daar egter ʼn angel in die stert. Die staat beoog om sommige regulasies wat kragtens hierdie Wet uitgevaardig is, en wat spesifiek op hierdie ramptoestand gefokus het, te behou deur dit ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheid 21 van 2003 uit te vaardig. Dié konsepregulasies is tot 16 April 2022 oop vir publieke kommentaar.

Hierdie skuif word wyd gekritiseer omdat dit indirek op die permanente voortsetting van die ramptoestand neerkom, en in sommige gevalle meer drakoniese inbreukmakings op die regte van die individu sal toelaat. Dit sluit verpligte toetsing, verpligte inenting en selfs verpligte behandeling in, en maak gevolglik inbreuk op die grondwetlike regte van vryheid en sekuriteit van die persoon (die Grondwet artikel 12 (2)), asook die reg op vryheid van godsdiens, geloof en opinie (die Grondwet artikel 15). Die minister van Gesondheid en die minister van Arbeid verkry daardeur ook uitgebreide magte en besluitnemingsbevoegdhede wat voorheen by die Ministeriële Advieskomitee (wat uit verskeie spesialiste en ander rolspelers bestaan het) berus het.

Van die regulasies wat so kunsmatig van krag gehou sal word, is nie in lyn met wêreldwye statistieke en vooruitskouings nie, en het voorts weens die afname in infeksies dikwels relevansie verloor. Daar sal egter vir nog 30 dae oorgangsmaatreëls geld. Wat dit presies behels, is ongelukkig tans ook onduidelik. Die Wet op Rampbestuur maak eerstens nie vir oorgangsmaatreëls voorsiening nie, en die president het gemeld dat die oorgangsmaatreëls nie afdwingbaar sal wees nie, maar het daarna verwys as blote “aanbevelings”.

Jan en San Alleman weet dus nie meer nie: Wat mag en wat mag nie? Die president van die Mediese Navorsingsraad, het gewaarsku dat daar ʼn vyfde epidemievlaag aan die begin van Mei verwag kan word. Om dan weer amptelik ʼn ramptoestand af te kondig, sal verskeie formele tydsame prosesse vereis. Dit is dus duister hoekom die huidige ramptoestand nie bloot vir nog 30 dae op die laagste vlak kon voortduur nie. Die nuwe tydrowende regulering van die ramptoestand, wat wyd en syd gekritiseer word, sal voor dan met sekerheid gefinaliseer moet word indien die staat daarmee wil volhard.

Dr. Nkosazana Dlamini Zuma, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, het egter gewaarsku dat, indien dit nodig blyk te wees, die ramptoestand weer ooreenkomstig die oorspronklike wetgewing en regulasies ingestel sal word.

Dr. Birgit Kuschke is ʼn dosent in die Departement van Regsgeleerdheid en ʼn kenner op die gebied van privaatreg.