Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Melktertdag: Romerige tradisies en soete herinneringe

28 Februarie 2024

Geskryf deur Anien van Niekerk, Fontiepos-joernalis

Op 27 Februarie het Fonties die geleentheid gehad om nasionale Melktertdag te vier. Die melktert is ʼn tradisionele Suid-Afrikaanse gereg wat dikwels op ʼn Sondagmiddag, ná kerk, as nagereg voorgesit word.

Die nederige melktert het ʼn interessante geskiedenis. Volgens oorlewering was dié soetgebak reeds gewild onder die Nederlandse setlaars wat hulself gedurende die sewentiende eeu in die Kaap gevestig het. Die melktert soos ons haar vandag ken was destyds gesien as ʼn plaaslike namaaksel van die Nederlanders se mattentaart.

Vir Fonties wat daarvan hou om te bak, is ʼn melktert maklik om te maak. Hiermee ʼn resep vir ʼn yskasmelktert, maar wees gewaarsku: dié soete verleiding vra altyd vir nóg ʼn skeppie!

Bestanddele:

  • ʼn Knippie sout
  • Een liter melk
  • ʼn Kwart koppie suiker
  • Twee pakkies tennisbeskuitjies
  • Een eier
  • Twee eetlepels mielieblom
  • Een eetlepel vlapoeier
  • ʼn Blikkie kondensmelk

Metode:

  • Maak die vulsel deur die vlapoeier, eier, suiker en mielieblom goed saam te meng.
  • Meng die melk en kondensmelk en verhit tot kookpunt.
  • Voeg die dik vlamengsel (wat jy in die eerste stap gemaak het) by die melk- en kondensmelkmengsel en roer voortdurend terwyl jy dit oor ʼn lae hitte weer tot kookpunt verhit.
  • Pak ʼn lagie tennisbeskuitjies in ʼn tertbak en gooi die helfte van die vlavulsel daaroor uit. Pak ʼn tweede laag tennisbeskuitjies bo-op die vulsel en gooi die oorblywende vulsel hierop uit.
  • Strooi kaneelsuiker oor die tert en verkoel dit in die yskas.

Die laaste stap is om die tert te geniet! Hierdie word gedoen deur ʼn paar vriende oor te nooi vir melktert en koffie. Pasop om nie te veel te eet nie, maar as jy doen ontspan, ek sal vir niemand sê nie!

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.