Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Elke goeie ding kom ongelukkig tot ʼn einde ...

28 Februarie 2024

Geskryf deur Juné Jordaan, Fontiepos-adjunkredakteur

En só kom die dienstermyn van die 2023-Fontiepos-redaksie tot ʼn einde. Ons groet julle met seer harte, maar koester elke geleentheid wat ons gehad het om aan julle verslag te doen.

Ons sien saam met julle daarna uit om binnekort ʼn nuwe redaksiespan te verwelkom, en is opgewonde oor wat die toekoms vir die Fontiepos inhou. Ons wens dié span alle sterkte toe met hul nuwe rol.

Redakteur: Leani Smith

Ek wil alle Fonties bedank vir julle voortgesette ondersteuning van die Fontiepos. Dit was vir my ʼn voorreg om die afgelope twee jaar op die Fontiepos te kon dien, en ek wens die volgende redaksiespanne net die beste toe. Ek wil ook graag elke student sterkte toewens met hul toekomsreis – mag julle altyd onthou waar julle hulp vandaan kom.

Adjunkredakteur: Juné Jordaan

Dit was ʼn ongelooflike eer om as adjunkredakteur te dien. Ek wens die nuwe span alle sukses toe. Mag jul potlode skerp en jul idees sonder grense wees. Mag die pad vorentoe julle lei na groot avonture en wonderlike geleenthede. Ek sien uit om te sien wat die toekoms vir die Fontiepos inhou.

Subredakteurs

Jana Swanepoel

Dankie aan almal wat die Fontiepos gelees het! Te danke aan julle kon ek my liefde vir die Afrikaanse taal uitlééf. Só aan die begin van ʼn nuwe jaar mag jy dalk, soos ek, oorweldig voel. Vir jou wil ek sê: haal asem, en doen net wat jy kan met die tyd wat jy het. Alles sal verder uitwerk soos dit moet.

André Muller

Dit was ʼn absolute voorreg, eer en verantwoordelikheid om deel te kon wees van die Fontiepos-span! My mederedaksielede was deurentyd uiters professioneel en toegewyd. Mag die Fontiepos van krag tot krag gaan.

Joernaliste

Kayla Roets

Beste Fonties

Dit was ʼn ongelooflike reis om as joernalis vir die Fontiepos te dien, en nou, terwyl ek vaarwel sê, wil ek my opregte dank uitspreek aan elkeen van julle. Aan die span, julle was méér as net kollegas; julle was my Fontie-familie, my inspirasie, en my ondersteuningsnetwerk. Om saam met julle te werk was ʼn eer, en ek is vreeslik dankbaar vir die herinneringe wat ons saam kon maak. Aan ons lesers, dankie dat julle ons met julle stories toevertrou het en vir die belangrike rol wat julle in ons Fontie-gemeenskap speel.

Megan Ferreira

Liewe Fonties. Daar is ʼn seisoen vir alles in die lewe – ʼn begin en ʼn einde. Dieselfde geld vir ons as Fontiepos-redaksie. Ek wens vir elkeen van julle goedheid, guns, vrede, vreugde en liefde toe. Net soos wat elke donker wolk ʼn silwer randjie het, net só moet julle altyd die blink kant bo hou en glo. Dit mag dalk altyd soos ʼn stryd voel maar onthou – aanhouer wen!

Anien Van Niekerk

Beste huidige en toekomstige Fonties. Dit was ʼn eer om deel te kon wees van die Fontiepos se redaksiespan, en om elke maand vir julle artikels te skryf. My gunstelingdeel van dié taak was beslis om te sien watter musiek julle vir die maandelikse top-10-musieklys gekies het. Ek wens julle net die beste toe vir die toekoms en hoop julle het almal ʼn geseënde jaar!

Fotograwe

Frances Dreyer

Om deel van die Fontiepos-span te wees was ʼn groot voorreg! Dit het my geleer om my tyd goed te bestuur, en dit het my gehelp om as fotograaf meer van die mooi in die wêreld raak te sien. Baie dankie!

Danet Van Wijk

My raad aan julle is eenvoudig: geniet die jaar! Werk hard en maak tyd om pret te hê saam met al die ongelooflike mense wat julle by Akademia sal ontmoet. Probeer ook ten minste een nuwe ding hierdie jaar.

Mari-Louise Botha

Dankie aan die Fontiepos wat Akademia se studente ingelig hou van gebeure, pret aktiwiteite en van alles wat studente moet weet!

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.