Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Skrikkeljaar: Só verander ʼn ekstra dag die kalender

28 Februarie 2024

Geskryf deur Anien van Niekerk, Fontiepos-joernalis

Ons het vanjaar ʼn ekstra dag! Vir diegene wat nie geweet het nie, 2024 is ʼn skrikkeljaar, so Februarie het 29 dae. ʼn Skrikkeljaar kom slegs een keer elke vier jaar voor.

Die skrikkeljaar se geskiedenis dateer terug na die vroeë Romeinse tydperk toe Julius Caesar aan bewind was. Die Romeinse-kalender het tradisioneel oor 355 dae beskik, maar om te verseker dat gewilde feesvieringe elke jaar op dieselfde datum gevier word, is daar ʼn ekstra maand van 22 of 23 dae bygevoeg. Hierdie aangepaste kalender stem baie nou saam met die jaarkalender wat ons vandag gebruik. Een van die belangrikste toevoegings tot Caesar se kalender was dat daar in elke vierde jaar ʼn ekstra dag bygevoeg moes word. Laasgenoemde verseker dat die kalender belyn is met die sonkalender.

Baie jare ná Caesar het daar ʼn legende die rondte gedoen dat die Heilige Brigid van Ierland dalk verantwoordelik was vir die eietydse liefdestradisie wat met ʼn skrikkeljaar gepaard gaan. Die storie lui dat Brigid gekla het dat vrouens te lank moes wag voordat mans hulle gevra het om te trou. Ierland se Heilige Patrick het toe, aldus die legende, vir vrouens toestemming gegee om tydens ʼn skrikkeljaar die geleentheid aan te gryp om mans te vra om met hulle te trou.

Daar is wêreldwyd ongeveer vier miljoen mense wat op skrikkeldag gebore is. Diégene kies gewoonlik om óf op 28 Februarie óf op 1 Maart te verjaar, as dit nie ʼn skrikkeljaar is nie.

Skrikkeldag word geskiedkundig gekoppel aan aktiwiteite soos troues, feeste, en poetse. Wat het jy op skrikkeldag gedoen?

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.