Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die rebelse gees van Sint Valentyn

28 Februarie 2024

Geskryf deur Juné Jordaan, Fontiepos-adjunkredakteur

Valentynsdag word alom beskou as ʼn dag van liefde, blomme, en rooi harte. Dit is dan juis ook gepas dat dié dag se oorsprong gehul is in romanse.

Volgens legende, dateer Valentynsdag uit die tyd van antieke Rome. Keiser Claudius II het na bewering gedurende hierdie tyd ʼn verbod geplaas op die huwelik van jong soldate. Hy het geglo dat enkellopende soldate goeie vegters was. In die tyd het ʼn priester genaamd Valentyn egter die keiser verontagsaam en het hy in die geheim jong paartjies in die huwelik bevestig.

Volgens oorlewering is Valentyn uiteindelik gevang en ter dood veroordeel. Vóór sy teregstelling het hy egter halsoorkop verlief geraak op die dogter van ʼn tronkbewaarder. Kort voor sy dood het hy vir haar ʼn liefdesbrief geskryf wat hy met die frase, “Jou Valentyn”, onderteken het. Natuurlik vind dié frase steeds in ons moderne tyd by verliefdes aanklank.

Tydens die Middeleeue is Valentynsdag verbind met hofmakery. Dink aan ridders, hoflikheid, en handgeskrewe briewe waarin onsterflike liefde verklaar word. Dit was eers in die negentiende eeu dat Valentynsdagkaartjies in massas geproduseer is – danksy tegnologiese vooruitgang. Ek weet nie van jou nie, maar dié historiese oomblik maak dit baie makliker om jou liefde aan iemand te verklaar!

Of jy enkellopend, in ʼn verhouding, of jouself êrens in die middel van hierdie uiterstes bevind, bly Valentynsdag ʼn rooiletterdag waarop jy die mense vir wie jy lief is, kan bederf.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.