Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Kunsmatige intelligensie en ChatGPT – Die toekoms is hier

Geskryf deur Anien van Niekerk, joernalis by die Fontiepos

Baie van ons is vertroud met die 2008 Pixar-animasiefilm, WALL-E. Dit is die storie van ʼn eensame robot, WALL-E, wat in die jaar 2805 op ʼn toekomstige, onbewoonbare en verlate aarde gelaat word om vullis op te ruim.

Die film skets ʼn negatiewe beeld oor toekomstige tegnologieë en veral kunsmatige intelligensie (KI). Die karaters, wat almal KI-georiënteerd is, word as ongesond en traag uitgebeeld. Hierdie uitbeelding is egter ver verwyderd van die huidige opwindende wêreld van KI. Vandag hou KI groot voordele vir die mensdom in, indien dit reg bestuur word.

ChatGPT, die taalmodel wat deur OpenAI ontwikkel is (wat ook as ʼn kletsbot bekendstaan), is tans een van die bekendste en mees belowende KI-tegnologieë beskikbaar vir menslike gebruik. Hierdie spesifieke KI-tegnologie maak van ʼn neurale netwerk gebruik met die doel om groot hoeveelhede data te verwerk en daarmee antwoorde op verbruikers se vrae te genereer.

Dit is juis hierdie verwerkingsvaardigheid van KI wat kenners in onderwys- en hoëronderwyskringe op hul hoede het. Kenners waarsku dat KI as hulpmiddel ʼn mens se kritiese denkvermoë en probleemoplossingsvaardighede in gedrang kan bring. In die lig hiervan word streng beleidsdokumente opgestel en in plek gestel om die misbruik van KI te voorkom.

Ondanks hierdie bekommernisse, is daar baie maniere om op etiese wyse van ChatGPT gebruik te maak. ChatGPT kan verbruikers tyd en geld spaar deur outomatiese plasings te genereer vir sosiale media, asook die skryf van e-posse.

Programme soos ChatGPT kan ook as ʼn brug tussen menslike en masjienkommunikasie gebruik word. Dit kan byvoorbeeld tegnologiese prosesse in eenvoudige taal verduidelik en selfs programmeringskodes skryf. ChatGPT kan ook gebruik word om foute in spelling en grammatika te verminder. Die KI-tegnologieë se toepassing van die Afrikaanse taal is egter nog nie op standaard nie en daarom sluip daar  steeds baie taalfoute  by die gebruik daarvan in. Dit genereer elke nou en dan ook ʼn antwoord in Nederlands wanneer ʼn vraag in Afrikaans gevra word.

Dit is belangrik om daarop te let dat KI-kletsbotte ook foute maak en antwoorde kan verskaf wat dalk moontlik klink, maar verkeerd is of nie sin maak nie. Die rede hiervoor is dat die KI nie vanself reg van verkeerd kan onderskei nie en slegs subjektiewe antwoorde gee. Om bogenoemde redes moet ChatGPT en soortgelyke programme met omsigtigheid gebruik word. Die inligting wat deur die KI-kletsbot gegenereer word, moet altyd nagegaan word deur die verbruiker wat self deeglike navorsing oor die onderwerp doen en seker maak dat die inligting wat verskaf word op datum en relevant is.

Om terug te kom na WALL-E. Dit gaan hopelik nog baie lank neem voordat tegnologie ons, soos die karakters in die film, vuisvoos en ontnugter laat. Miskien sou WALL-E gelukkig gewees het op moederaarde in 2023, in ʼn wêreld waarin die mens en masjiene in harmonie saamwerk. Die toekoms lyk steeds belowend.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.