Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Flip Buys en prof. Danie Goosen: Legendes in ons leeftyd

Geskryf deur Anien van Niekerk, joernalis by die Fontiepos

Gedurende die afgelope twee maande het ons die geleentheid gehad om twee pioniers van Akademia se verjaarsdae te vier. Eerste aan die beurt was Flip Buys, ʼn direkteur van Akademia, wat op 1 Maart ʼn volle 60 jaar oud geword het. Daarna het prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, op 12 April sy 70ste verjaarsdag gevier. Akademia sou nie vandag die instelling gewees het wat hy is, as dit nie vir hierdie twee innoverende mense  en hulle dinamiese visie vir die toekoms was nie.

Flip Buys is tans die voorsitter van die Solidariteit Beweging en beklee dié posisie sedert 1997. Buys is ook ʼn direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en het al van jongs af ʼn aansteeklike liefde vir sy moedertaal en ʼn behoefte om die taal en kultuur te beskerm. Hy is ook sedert 2015 ʼn raadslid van die Noordwes-Universiteit (NWU) asook ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy is gelukkig getroud met Melanie Buys en die egpaar het vier kinders.

Prof. Danie Goosen is bekend as ʼn begaafde filosoof en akademikus. In 2020 sien ʼn spesiale herdenkingsboek oor hom, getiteld Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen, die lig. Hy is sedert 2004 voorsitter van die FAK, en in 2008 is hy aangestel as ʼn professor in Godsdienswetenskap by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Sy kollegas beskryf hom as ʼn besondere intelligente en diepgelowige man.

Akademia se visie beklemtoon die vorming van denke sowel as die hart ten einde studente voor te berei om ʼn vrye en betekenisvolle toekoms te skep. Beide hierdie legendes verpersoonlik hierdie visie en hulle lééf Akademia se waardes uit deur hulle liefde vir akademie en hulle verbintenis tot tersiêre onderrig van gehalte vir volgende generasies daar te stel.

Akademia is bevoorreg om hierdie twee pioniers as deel van die Akademia-familie te hê en ons hou hul bydrae tot die Afrikaanse gemeenskap met afwagting dop.

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging en direkteur van Akademia.
Prof. Danie is die akademiese hoof van Akademia.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.