Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Geen ouderdomsbeperking vir Akademia-student se onderwysdrome nie

Geskryf deur Marisha Hermann, joernalis by die Fontiepos

Anneré Koen is ʼn 34-jarige eerstejaarstudent by Akademia. Sy geniet dit om te gesels en die BEd (Grondslagfase-onderwys)-kwalifikasie waaarvoor sy op Akademia se Centurion-kampus studeer, pas beslis by haar vrolike persoonlikheid.

Na skool het Koen eers skoonheid studeer en haar loopbaan as ʼn skoonheidstegnikus begin. Haar opgewondenheid oor die bedryf het egter stadig maar seker begin stagneer. Gedurende die Covid-19-tydperk het sy haar broerskind opgepas en dit was gedurende dié tyd dat sy ʼn passie vir onderwys ontdek het en begin droom het oor ʼn lewe voor in die klaskamer.

Haar broer het haar uiteindelik oorreed om haar drome na te jaag en onderwys te studeer. Volgens Koen het alles net in plek geval. Sy het by Akademia aansoek gedoen omdat sy beïndruk was met die instelling se goeie waardes en die vooruitsig dat sy in Afrikaans kon klasdraf. Alhoewel sy eers vreeslik angstig was, het sy vrede ervaar nadat sy haar aansoek ingedien het en sy was gerus dat sy die regte besluit geneem het.

Een Donderdagoggend stel sy vas sy is by Akademia aanvaar, en sy bel toe haar broer gebel met die woorde: “Ek is ʼn student!”. Sy onthou hoe trane van vreugde en opwinding oor haar wange gerol het. Die res is soos hulle sê, geskiedenis!

Sy het die volgende dag bedank en die daaropvolgende Maandag by die Centurion-kampus aangemeld vir haar eerste dag as ʼn volwaardige Fontie. Sy was aanvanklik bang dat sy baie aandag as ʼn ouer student sou trek. Sy lag en vertel dat sy al ʼn paar keer “tannie” genoem is, maar sy het vinnig ingeskakel en begin vriende maak. Sy voel trots om te studeer by ʼn instelling waar studente ontvanklik is, almal vriendelik is, waar sy vryelik oor God kan praat en waar respek gekweek word.

Een van vele aspekte van Akademia wat vir haar uitstaan, is die feit dat mense mekaar groet en mekaar in die oë kyk. Sy was net so verbaas toe sy sien, en ervaar, hoe die manne vir die dames wag om eerste te loop. Sy voel deel van ʼn gemeenskap en word hoegenaamd nie uitgesluit nie.

Haar raad aan ander ouer mense wat graag wil studeer is: “Doen dit net!”. Verder is haar raad aan enige iemand anders: “Doen wat jou gelukkig maak”. Sy het uiteindelik haar passie gevind en ons kan nie wag om te sien hoe sy oor ʼn paar jaar met ʼn vrolike glimlag voor ʼn klas staan nie.

Anneré Koen is ʼn voltydse BEd (Grondslagfase-onderwys)-student aan Akademia.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.