Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Bekendes in die media deel kennis en ervaring by Akademia-simposium

Geskryf deur Marisha Hermann, joernalis by die Fontiepos

Die Departement van Kommunikasie en Joernalistiek het op Donderdag 13 April die eerste joernalistieksimposium aangebied. Tydens hierdie geleentheid het prof. Johannes Froneman ook sy splinternuwe boek, Ter wille van oorlewing, ideologie en geld, bekend gestel.

Na afloop van ʼn boekgesprek tussen Froneman en Heindrich Wyngaard, bekende mediapersoonlikheid en sosio-politieke kommentator, het verskeie bekendes in die Afrikaanse mediabedryf agter die mikrofoon ingeskuif om oor die geleenthede en die uitdagings in dié dinamiese sektor te gesels.

Dr. Alé Steyn, departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia, het in haar spreukbeurt genoem dat die mediabedryf onvoorspelbaar is en dat daar werklik nuwe maniere gevind moet word om die media te benader.

Barnard Beukman, redakteur van Beeld, het veral joernalistiekstudente aangemoedig om nuuskierig te bly en voortdurend daarop te fokus om goed te skryf. Kabous Meiring, televisievervaardiger, -regisseur en -aanbieder, het op haar beurt joernaliste en kommunikasiekundiges aangemoedig om ten alle tye getrou aan hulself te bly, en hulself voortdurend uit te daag om nuwe dinge te probeer en groter sukses te behaal.

In die aanbieding van Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, was dit duidelik dat Afrikaanse digitale media ʼn groot fokus vir dié nuusplatform is. Volgens Lombaard is digitale media egter nie sonder uitdagings nie. Sy beklemtoon dat dit belangrik is om jou teikengehoor goed te ken ten einde die regte inhoud op die regte tyd te bied.

Die digitale media-omgewing bied egter groot moontlikhede aan Maroela Media aangesien dit nog ʼn relatief onbetwiste omgewing binne die mark is. Lombaard waarsku egter dat dié geleentheid om onbeperkte inligting te publiseer, daartoe kan aanleiding gee dat joernaliste “dag en nag” werk en daarom dikwels uitbrand.

Die welbekende spesialisverslaggewer by Netwerk24, Maygene de Wee, het al die pad van die Kaap af gekom om aan die simposium deel te neem. De Wee, vir wie die lief en leed van mense baie na aan die hart is, het op ʼn emosionele manier verduidelik hoe sy haar “stories by mense se voordeure gaan haal.” Sy het ook aan die gehoor die strategieë genoem wat sy gebruik om netwerke op te bou.

Die simposium het afgesluit met ʼn suksesvolle paneelgesprek wat deur Wyngaard gefasiliteer is. Die paneellede was Beukman, Antoinette Slabbert, senior verslaggewer by Rapport, Nico Strydom, redakteur van Maroela Media, asook Pieter Steyn, senior joernalis by Rapport en verslaggewer by RSG.

Verskeie BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-studente het tydens die simposium die geleentheid gehad om skouers te skuur met bekendes soos Tim du Plessis, die groepsredakteur van Media24 en vele ander.

“Die simposium was vir my regtig insiggewend. Ek het daar uitgestap met nuwe kennis, my horisonne is verbreed, nuwe netwerke is gebou en ek het inspirasie vir die toekoms,” sê Elisma van der Watt, ʼn finalejaarstudent in BA (Kommunikasie en Joernalistiek).

Akademia se Departement van Kommunikasie en Joernalistiek het op Donderdag 13 April ʼn joernalistieksimposium aangebied.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.