Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-koor leer mekaar kamp-kamp ken

Geskryf deur Miné Hermann, joernalis van die Fontiepos

Die Akademia-koor sing nie net soos nagtegale nie, hulle is ook kampeerders van formaat! Ja, kamp in tente – reg langs die koue Hennopsrivier by Leriba.

Tydens die naweek van 14 tot 16 April het die koorlede kamp opgeslaan en in die proses sommer baie pret beleef.

Die koor het verskeie oefensessies gehad waar hulle hard voorberei het vir die jaar se optredes. Tussen die oefeninge deur was daar natuurlik tyd vir deelname aan verskeie sosiale aktiwiteite om mekaar beter te leer ken. Een van die hoogtepunte was die toneelstuk wat deur die nuwe koorlede opgevoer is. Die gehoor het lekker gelag vir Rooikappie se nuwe, rooi Ferrari en Aladdin wat in die middel van die nag die vuurwa steel. Die arme wolf is met ʼn rooi appel vergiftig en die lelike eendjie, met die mooi beentjie, was toe nie so lelik soos wat almal gedink het nie!

Nog ʼn hoogtepunt was natuurlik die “Kyk na ons, ons maak pons”-kompetisie, toe elke stemgroep die geleentheid gehad het om pons te maak. Die alte het hul stem dikgemaak en uiteindelik weggestap as die algehele wenners van die kompetisie.

Saans het almal om die vuur gesit en liedjies gesing. Dit het bygedra tot die hele naweek se gesellige atmosfeer. Die kamp is afgesluit met ʼn koorkonsert, bygewoon deur Akademia-koshuisgangers.

Die koor gaan beslis vanjaar groot hoogtes bereik en ons kan nie wag om hul optredes by te woon nie. Hou Akademia se sosiale media dop vir meer inligting.

Die Akademia-koor het onlangs by Leriba kamp opgeslaan en verskeie sessies bygewoon om hulself gereed te kry vir die kooroptredes wat vir die jaar voorlê.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.