Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Finansiële bedagsaamheid: ja of nee?

Geskryf deur Megan Ferreira, joernalis by die Fontiepos

Finansies bly nou maar net een van daardie tameletjie-onderwerpe en na afloop van die Covid-19-pandemie blyk dit nog meer so. In die lig hiervan is finansiële bedagsaamheid ʼn oorweging wat jou nie net uit ʼn verleentheid kan help nie, maar ook jou bankbalans gelukkig kan hou. Eenvoudig gestel: ʼn Gedeelde uitgawe is ʼn ligte(r) uitgawe!

Hoe gemaak as julle as ʼn groep vriende byvoorbeeld by ʼn restaurant gaan kuier? Verdeel julle die rekening, of betaal elkeen sy eie maaltyd? Ek het ʼn bietjie rondgevra en by Fonties uitgevind hoe hulle oor hierdie saak voel.

Uit my meningsopname was dit duidelik dat die meeste studente dit verkies dat die rekening presies gelyk verdeel word tussen vriende. Die reëling hou ʼn risiko in, omdat nie elke persoon in die vriendekring dieselfde hoeveelheid kos eet, of dieselfde hoeveelheid drank of koeldrank drink nie. Nietemin is dit belangrik om mekaar in moeilike tye te ondersteun deur die rekening gelykop te verdeel. Studente moet immers met ʼn beperkte begroting sien kom klaar.

Nog ʼn opsie is dat elkeen sy eie maaltyd en drankies betaal en dat die rekening dan dus gedeel word afhangende van wat elkeen bestel het. Sommige Fonties voel dat hierdie reëling almal akkommodeer, terwyl dit ook geld spaar.

Hierdie verdeling van die rekening, waar elkeen vir hulself moet betaal, hou ʼn paar voordele in vir elkeen wat ʼn paar rand wil spaar, vir ander wat volgens hul eie voorkeure bestellings wil plaas, en vir elkeen om soveel te kan koop as  wat hulle sou wou.

Daar kan wel ook voor die tyd ooreengekom word dat een persoon alleen die rekening sal dra – waar elke vriend ʼn beurt kry wanneer die groep saam ʼn restaurant besoek.

Dit is belangrik dat die groep vooraf saam besluit hoe die rekening betaal gaan word, om sodoende almal op hul gemak te plaas en verwarring en konflik uit te skakel.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.