*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Sally as KI-klasmaat: Wie leer vir wie?

Gepubliseer op:  17 Augustus 2026

Geskryf deur dr. Chris-Mari Le Hanie, senior dosent: Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

ʼn Skooldistrik in New York het onlangs wêreldwyd vir opslae gesorg ná die bekendmaking van sy voorneme om ʼn halfmensrobot genaamd Sally in sy robotikaklasse te gebruik. Hoewel die projek intussen op die lange baan geskuif is ten einde verskeie bekommernisse aan te spreek, is dit belangrik vir Suid-Afrikaanse skole om hulself deeglik van nuwe tegnologieë te vergewis.

Onderwysers, in hul kapasiteit as navorsers, lewenslange leerders en veranderingsagente is immers daarmee getaak om nuwe moontlikhede op ʼn verantwoordbare wyse te ondersoek. Kunsmatige intelligensie (KI) kan byvoorbeeld die administratiewe werkslading waaronder onderwysers gebuk gaan verminder, terugvoering ondersteun, leerinhoud meer toeganklik maak en uiteindelik ook help om effektief vir uiteenlopende leerbehoeftes te beplan.

Aangename kennis, Sally

Sally het ʼn lewensgetroue silikoonvel, lang bruin hare en die vermoë om haar arms en kop te beweeg, terwyl sy gesigsuitdrukkings kan naboots en gesprekke op ʼn opgewekte manier kan voer.

Sy is geskep met die uitsluitlike doel om as ʼn onderwysassistent te funksioneer deur leerders en onderwysers se vrae te beantwoord. Haar digitale avatar maak dit voorts vir haar moontlik om 24/7 beskikbaar te wees. Die stelselkoste verbonde aan haar ontwikkeling het $57 590 beloop.

Die beoogde interaksies was omvangryk:

  • ʼn Leerder sou byvoorbeeld met ʼn unieke nommer kon aanmeld, waarna Sally ʼn vorige gesprek kon hervat en ondersteuning volgens die leerder se vordering kon bied.
  • Leerders sou foto’s van huiswerk kon oplaai, terugvoer ontvang, lesse oor onderwerpe van belang aanvra, asook vertalings – in meer as 100 tale – aanvra.
  • ʼn Onderwyser wat tydens ʼn les leiding oor die volgende kurrikulumstappe benodig, sou Sally om hulp kon raadpleeg.

In ʼn praktiese demonstrasie oor afknouery het Sally die leerder aangeraai om ʼn betroubare onderwyser, berader, skoolhoof of ouer te nader.

Sally se belangrikste ontwerpkenmerk was egter nie haar lewensgetroue voorkoms nie, maar haar vermoë om te weier om sekere vrae te beantwoord. Laasgenoemde spruit voort uit die feit dat sy slegs toegang tot plaaslik gestoorde en goedgekeurde kennisbasisse sou hê en gevolglik “Ek weet nie” moes antwoord wanneer ʼn vraag buite dié begrensde inhoud val.

Teenstrydighede en voorsiene uitdagings

Teenstrydighede en voorsiene uitdagings het egter daartoe gelei dat Sally nie haar toetrede tot die klaskamer kon maak nie.

Die skooldistrik het, gedagtig aan hierdie bekommernisse, onder meer verklaar dat die stelsel nie persoonlik identifiseerbare inligting sou versamel, gesprekke sou opneem of data aan Realbotix – die ontwerpmaatskappy – sou deurgee nie. Dit bly egter ʼn teenstrydigheid, want leerderidentifikasie en gestoorde vorderingsdata sou verpersoonlike ondersteuning moontlik maak.

Die projek is op 24 Julie 2026 tydelik gestaak ná die New Yorkse departement van onderwys teen moontlike regs-, operasionele, onderrig-, privaatheid- en veiligheidsgevolge gewaarsku het. Die departement was veral bekommerd dat ʼn sogenaamde tutoriaalplatform funksies sou kon verrig wat die verantwoordelikheid van opgeleide en professionele onderwyslui behoort te bly. Onderwysers het ook vrae oor die nabootsing van menslike verhoudings en Realbotix se korporatiewe geskiedenis gestel.

ʼn Les vir die Suid-Afrikaanse onderwyser

Gedagtig aan Sally, en veral die uitdagings wat met dié tegnologie voorsien word, is dit belangrik dat plaaslike skole nie summier skepties moet wees oor nuwe tegnologieë nie.

Die waarde van tegnologie kan egter nie slegs aan spoed en doeltreffendheid gemeet word nie. In ʼn vorige meningstuk, “Onderwyser, jy doen soveel meer”, word dit duidelik gestel dat ʼn onderwyser se impak nie net tot die klaskamer beperk is nie. ʼn Onderwyser is óók ʼn vakspesialis, kurrikuluminterpreteerder, navorser, ontwikkelingsafrigter, veranderingsagent én voog. Terselfdertyd – gedagtig aan die klassieke verwysing na die ware, die goeie en die skone – meen prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie van Akademia, dat onderwys nie net doeltreffend moet wees nie, maar ook vormend behoort te wees.

Die kernvraag is daarom of die gebruik van tegnologieë, soos Sally, die onderwyser se roeping versterk, betekenisvolle leer bevorder en leerders dieper aan kennis, medemense en die gemeenskap verbind.

Vorming vind oor tyd, ruimte en inhoud plaas. Tyd is die geduldige ritme waarbinne groei moontlik word. Ruimte verwys na die veilige ontmoetingsplek waar ʼn leerder mag vra, fouteer en telkens weer probeer. Inhoud leef gevolglik nie slegs in voorgeskrewe handboeke nie, maar eerder in oop gesprekke, verhale en die lewenslesse waaraan leerders daaglik blootgestel is.

Die menslike benadering staan sentraal

Onderwysers is inhoudskeppers wat help skryf aan hul leerders se lewensverhale. Vindingryke tegnologieë soos KI kan hierdie vormingstaak ondersteun, maar sal nooit die plek en impak van ʼn roepingsgedrewe onderwyser se teenwoordigheid en onderskeidingsvermoë kan inneem nie.

Met hierdie realiteitsbesef in gedagte is dit belangrik om ten alle tye die benadering te volg waar die mens heeltyd betrokke is. In die gebruik van KI beteken dié benadering dat ʼn mens die uitsette beoordeel, moontlike foute regstel, grense bepaal en die finale verantwoordelikheid vir besluite aanvaar. Die mens neem daarom nie nét die rol van ʼn tegnologiegebruiker aan nie, maar ook as verantwoordbare beoordelaar daarvan.

Sally se verhaal vra dus nie dat skole skepties oor KI moet wees, en dit moet verbied en vermy nie. Dit vra eerder dat skole stadiger, deursigtiger en meer mensgerig innoveer. Nuwe tegnologieë soos KI kan onderrig ondersteun, maar dit kan nie namens onderwysers oordeel, versorg of verantwoordelikheid aanvaar nie.

Dr. Chris-Mari Le Hanie, senior dosent: Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen dat nuwe tegnologieë soos kunsmatige intelligensie (KI) nie as ʼn bedreiging tot die onderwyspraktyk gesien moet word nie, maar eerder as ʼn hulpmiddel om vorming en leer te bevorder.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.