*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 17 Augustus 2026
Geskryf deur Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia
Vir die Afrikaanse gemeenskap is daar min instellings so belangrik soos dié waarin ons kinders en jongmense opgevoed en onderrig word – van die kleuterskool tot die universiteit. Daar word intuïtief verstaan dat hierdie instellings ’n diep invloed het op die ontwikkeling en vorming van ’n kind en later ʼn jongmens.
Die verwagting van Afrikaanse ouers is daarom veel groter as dat ’n skool bloot kennis en vaardighede moet oordra. Daar word verwag dat die kleuterskool, skool en later ook die universiteit sal voortbou op die vormingsfondasie wat reeds in die ouerhuis gelê is.
Van die laerskool word daar byvoorbeeld verwag dat ’n kind die basiese leer- en sosiale vaardighede sal ontwikkel, maar ook dat ’n liefde vir en deelname aan ander fasette van die lewe – sport, kultuur, geloof en gemeenskapslewe – aangemoedig sal word. Die laerskool is daarom nie slegs ’n plek van leer nie; dit is ook ’n plek van vorming en kultuuroordrag.
Met kultuur bedoel ek hier die gemeenskaplike begrip van wat waar, goed, mooi en waardevol is, soos dit gestalte kry in ’n gemeenskap se gewoontes, praktyke en instellings.
Van die hoërskool word daar verwag om op hierdie fasette voort te bou. Namate die leerder ontwikkel, vind daar verdieping én verbreding plaas. Die akademiese werk word meer veeleisend, maar terselfdertyd word die jongmens toenemend voorberei om selfstandig te dink, self verantwoordelikheid te neem, verhoudings te bou, leiding te gee en sy of haar plek binne ’n groter gemeenskap te begin inneem. Dit alles gebeur ter voorbereiding op die naskoolse lewe – hetsy verdere studie, beroepsopleiding of werk.
Wanneer hierdie jongmens uiteindelik op verdere naskoolse studie besluit, behoort ons verwagting daarom nie skielik kleiner te word nie. Inteendeel.
As die laerskool meer moet doen as om ’n kind te leer lees en skryf, en die hoërskool meer moet doen as om ’n leerder deur matriek te kry, kan die universiteit tog ook nie bloot ’n plek wees waar ’n student net ’n kwalifikasie verwerf nie.
Van die universiteit behoort ons méér te verwag.
Dit moet natuurlik ’n plek van ernstige akademiese studie wees. Die student moet ’n bepaalde vakgebied deeglik leer ken en uiteindelik oor die kennis en vaardighede beskik om ’n beroep met uitnemendheid te beoefen. Maar meer as net dit, behoort die universiteit die hoogtepunt te verteenwoordig van ʼn andersoortige opgawe, naamlik dié van vorming.
Hierdie gedagte is allermins nuut.
Reeds in 1852 voer die beroemde John Henry Newman aan, in sy werk wat saamgevat is in die boek The Idea of a University, dat die universiteit ’n plek is waar die student aan die groter geheel van kennis blootgestel behoort te word. Die verskillende dissiplines – geskiedenis, filosofie, natuurwetenskap, regte, letterkunde, teologie en ekonomie – is nie bloot losstaande eilande nie. Elkeen van hierdie dissiplines ondersoek ’n ander aspek van dieselfde werklikheid.
Daarom behoort universiteitsopleiding volgens Newman tot ’n intellektuele verdieping te lei – ’n verruiming van die denke. Die student moet nie net méér weet nie; hy moet toenemend in staat wees om die verhouding tussen dinge raak te sien, argumente te beoordeel, te onderskei en sy besondere vakkennis binne ’n groter geheel te kan plaas en toepas.
Meer as ’n eeu later skryf Allan Bloom in The Closing of the American Mind oor dieselfde universiteitsideaal, maar vanuit ’n ander hoek. Bloom is bekommerd dat die universiteit sy vermoë kan verloor om studente met die groot vrae van die menslike bestaan te konfronteer. Ware openheid beteken vir hom nie dat alle idees eenvoudig as ewe geldig aanvaar word nie. Dit beteken juis dat die student bereid moet wees om die moeilike vrae ernstig te ondersoek, en die moontlikheid voor oë te hou dat sommige antwoorde waar, en ander onwaar kan wees.
Newman en Bloom skryf in verskillende eeue en vanuit verskillende omstandighede, maar albei herinner ons aan ’n waarheid wat maklik verlore gaan: Die universiteit bestaan nie slegs om kennis en beroepsvaardighede oor te dra nie. Dit behoort denke te vorm en die student te lei na en in die groot gesprek oor die mens en die werklikheid.
Wanneer ’n mens só oor die universiteitswese dink, kry die verhaal van Akademia ’n besondere betekenis.
Die merkwaardige storie van Akademia strek veel verder as dié van ’n instelling wat in 2012 met slegs 40 studente begin het, en binne ’n betreklik kort tyd tot ’n hoëronderwysgemeenskap van duisende studente gegroei het. Die groter verhaal lê opgesluit in die soort hoëronderwysinstelling wat hier besig is om gestalte te kry.
Akademia strewe daarna om ʼn akademiese tuiste te wees waar uitnemende beroepsopleiding en menslike vorming nie teenoor mekaar gestel word nie. Akademia strewe ook daarna om ʼn plek waar die dele en die universele (geheel) mekaar nie wedersyds uitsluit nie; waar Afrikaans nie ’n grens is waar die wêreld eindig nie, maar eerder ’n taal is waardeur die wêreld ontdek kan word. Ons doelwit is om ʼn studietuiste te wees waar die Christelike geloof nie intellektuele ondersoek beëindig nie, maar juis die diepste vrae oor waarheid, goedheid, skoonheid en menswees oopbreek.
Dit is ’n gróót ideaal. Maar ’n ideaal het min of geen waarde as dit nie tasbaar gestalte kry in die alledaagse lewe van ’n universiteit nie.
Daarom is die belangrike vraag vir ons by Akademia: Hoe lyk hierdie strewe in die praktyk? Hoe bou ’n mens ’n hoëronderwysinstelling wat ernstig is oor akademiese uitnemendheid, maar wat terselfdertyd verstaan dat die vorming van jongmense van kardinale belang is?
As ʼn instelling het ons natuurlik nog baie om te leer. Akademia is immers ’n jong instelling. Maar oor die afgelope dekade en ʼn half het ’n aantal aspekte begin vorm aanneem wat iets vertel van die soort hoëronderwysinstelling wat ons probeer bou en vestig.
Hoe gebeur dit? Dit gebeur in die lesinglokaal, waar studente nie nét leer van die ekonomie, wiskunde of filosofie nie, maar waar hulle ook – oor die verloop van hul studiereis – met drie belangrike vrae gekonfronteer word: Die “wat is”-vraag – wat is die ekonomie, wiskunde en filosofie, die “waar kom dit vandaan”-vraag en, “hoe hou dit verband met die ander dele en die geheel van die wetenskap?”.
Hierdie vorming gebeur voorts in koffiehuise en rondom etenstafels. Studente ontmoet hier vir Homeros, Lewis, Tolkien en Dostoevsky. Deur groot werke uit die klassieke en ander eras te bestudeer, kry studente eerstehands te make met die groot vrae wat klassieke denkers uit hierdie ou wêrelde gevra en bedink het – net soos ons vandag behoort te doen.
Dit gebeur op die sportveld, op die verhoog en in die koshuissitkamer; by die ouetehuis en tuisdorpe waar hulle hulself met gemeenskapsdiens besig. Gedagtig hieraan is die studentelewe die gimnasium van die universiteitswese. Deur die studentelewe-ervaring lééf studente prakties wat in hul menswees vorm aanneem. Dit is hoe hulle vertroud en vaardig raak met die gereedskapstukke van ʼn betekenisvolle lewe – die deugde van dapperheid, selfbeheersing, geregtigheid en wysheid.
Met bogenoemde in gedagte, is dit nie wat ons van universiteite móét verwag nie?

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.