Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Internasionale Moedertaalmaand: Só voel Fonties oor moedertaalonderrig

28 Februarie 2024

Geskryf deur Kayla Roets, Fontiepos-joernalis

Óf jy nou via die voltydse kampusmodel óf die nauurse afstandsmodel studeer, Fonties van oraloor is dit eens: om in Afrikaans te kan studeer is ʼn gróót voorreg! Februarie staan bekend as Moedertaalmaand, en op 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag met ywer gevier – ook by Akademia.

Die Fontiepos-span het ter viering van dié geleentheid by ʼn paar Fonties aangeklop om te hoor hoe hulle oor moedertaalonderrig voel.

Nauurse studente

Elmé Taljaard, Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde-student

“Akademia maak toekomsdeure vir my oop! Dit was van jongs af my droom om, net soos my ouers, in my moedertaal te kan studeer. Om dié rede is ek ʼn trotse Fontie, en belê ek nie net in my eie toekoms nie, maar ook in dié van my toekomstige kinders. Vir my is daar net één manier om te studeer, en dit is in Afrikaans.”

Enole McClellan, BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-student

“Om in jou moedertaal te studeer is ʼn baie spesiale voorreg. Moedertaalonderrig laat my aan ʼn tuiskoms dink, want dit bepaal nie net wie ek is nie, maar ook waarvandaan ek kom (my kultuur). Om in Afrikaans klas te kry beteken vir my baie. Die werk word op ʼn verstaanbare manier verduidelik en in die proses word my begrip van die werk versterk. Ek is lief vir my taal en my kultuur en is trots Afrikaans!”

Danel Scheepers: Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie-student

“Kommunikasie in jou moedertaal is nét soveel lekkerder en meer persoonlik. Dit stel jou in staat om jou kultuurerfenis op ʼn spesiale manier te lééf! Verwarring sluip dikwels in as jy in ʼn taal anders as jou moedertaal probeer kommunikeer.”

Chanellé Booyens: BCom (Ekonomie en Regte)-student

“Ek het vir die eerste keer werklik oor moedertaalonderrig begin dink toe ek in graad elf was. ʼn Spreker het gepraat oor die groot sprong vanaf hoërskool na universiteit, en tydens sy toespraak het hy baie gefokus op die moeilikheidsgraad van akademiese leermateriaal en die realiteit dat Engels moontlik as studietaal gebruik sal word. Sy woorde was waar, maar destyds, as toekomstige Fontie, was ek nie bekommerd nie. By Akademia leer ek in Afrikaans, skryf ek eksamen in Afrikaans en méér nog: ontwikkel ek daagliks nuwe vaardighede – in Afrikaans.”

Lenushca van Niekerk: BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-student

“Vir my is moedertaalonderrig belangrik omdat Afrikaans die taal is van my grootwordjare en daarom deel is van my bestaan! Afrikaans is die taal van my hart en my menswees en daarom ook my trots. Dit voel soms vir my of mense Afrikaans as vanselfsprekend aanvaar, maar dit is belangrik om te besef dat moedertaalonderrig ʼn voorreg is. Ons moet hard werk om te verseker dat Afrikaans bly voortleef vir toekomstige geslagte.”

André Muller: BCom (Ondernemingsbestuur)-student

“Taal vergestalt betekenis. Dit gee nie net inhoud en lewe aan sinne nie, maar gee ook sin aan die lewe! Om dié rede stel moedertaalonderrig ons in staat om die wêreld beter te verstaan, terwyl dit ook betekenis aan ons daaglikse bestaan gee. Dink daaroor: ons praat, sing, debatteer, lag én dink in Afrikaans! Moedertaalonderrig verbeter leeruitkomste en daarom ook akademiese prestasie, en verteenwoordig soveel méér as bloot ʼn kommunikasiemedium.”

Voltydse studente

Anastasia Titan: LLB-student

“Ek studeer in my moedertaal want ek is nie so bekwaam en gemaklik in ʼn ander taal nie. Verder, laat jou moedertaal jou toe om jou sê met selfvertroue te sê!”

Madelein Carstens: BEd (Grondslagfase-onderwys)-student

“Ek studeer in my moedertaal om te verseker dat ek eendag wanneer ek in die beroepswêreld staan my leerders met selfvertroue sal kan onderrig. Ek is trots op Afrikaans en wil dié passie ook aan my leerders oordra.”

Jody de Ru: BCom (Ondernemingsbestuur)-student

“Ek studeer in my moedertaal, want dit verbind my tot my medestudente. Ons verstaan mekaar, en die inhoud waarvan ons leer, beter as ons in Afrikaans praat.”

Kaylia Smithers: BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-student

“Om in my moedertaal te studeer beteken dat ek elke dag my erfenis en grootwordkultuur kan koester. My taal is my kultuur en, ek het al geleer dat mens nooit jouself van jou kultuur kan losmaak nie. In my taal kan ek ook my outentieke self wees. My taal, my trots.”

Chelandri Pieterse: BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-student

“Ek studeer in my moedertaal, want dit is die taal waarin ek grootgeword het. Ek praat al my hele lewe lank Afrikaans, en sou beslis gesukkel het om in ʼn ander taal te studeer.”

Dié verskeidenheid standpunte illustreer beslis die dieperliggende waarde van moedertaalonderrig. Dit beklemtoon verder die belangrikheid van taal as ʼn voertuig vir identiteitsontwikkeling, begrip en akademiese sukses.

Studeer in jou moedertaal: Die sleutel tot sukses.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.