Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Huis Strelitzia se inblynaweek: Fonties bly om in te bly!

Geskryf deur Anien van Niekerk, joernalis by die Fontiepos

Inblynaweke bied aan koshuisstudente die geleentheid om mekaar nie net beter te leer ken nie, maar ook om op ʼn prettige wyse Fontiewees uit te lééf. Die dameskoshuis, Huis Strelitzia, het van 5 tot 7 Mei ’n inblynaweek gehou en op dié manier hul unieke koshuiskultuur gevier.

Die dames het die naweek afgeskop deur saam na ʼn rugbywedstryd te kyk en gesellig saam te kuier en te beplan aan die res van die naweek se aktiwiteite. Saterdagoggend het die dames die Big Red Barn in Irene besoek en heerlik gesmul aan gourmet-melkskommels en koffie, waarna die verskeie Irene-kunsmarkte aan die beurt was.

Met hul terugkoms by die koshuis was dit tyd vir spanbou. Een van die spanbou-aktiwiteite was die opvoering van grepe uit gewilde films – ʼn aktiwiteit wat vir ure se pret en plesier gesorg het. Inwoners van elke koshuisgang het ʼn eie fliektema gekry om uit te beeld. Temas soos Grease, Mean Girls, Footlose en Mamma Mia het kreatiwiteit ontlonk. Daar is volgens elke tema aangetrek en ʼn stemming is gehou om die mees kreatiewe uitbeelding aan te wys.

Die Mean Girls-span het die trofee vir die beste opvoering gewen met ʼn komedie vol kwinkslae oor hulle medestudente asook die nabootsing van ikoniese tonele uit dié fliek, natuurlik met ʼn Afrikaanse invalshoek. Die Footlose-span het die res van die koshuis op ʼn prettige dans trakteer, terwyl die Mamma Mia- en die Grease-groepe kombinasies van toneelspel en dans uitgevoer het.

Die res van die aand is omgedans, gesing en rondom die beerpong-tafel deurgebring. Die inwoners het dit terdeë geniet.

“My gunstelingding van die afgelope inblynaweek was die verskeidenheid drink- en eetgoed wat hulle vir ons gebring het. Die dansies wat ons moes saamstel was ook lekker. My gunsteling-aktiwiteit oor ʼn inblynaweek is om te gaan dans en saam met my vriende te kuier,” vertel Zanelee Lemmer, ’n Huis Strelizia-dame. Lizelda du Plessis, ook ʼn inwoner van dié koshuis noem dat haar gunstelingdeel van die naweek was om haar koshuisvriende beter te leer ken, asook die “opdress” en saam koffie drink.

Klink of dit soms lekkerder is om in die koshuis te bly as om huis toe te gaan!

Huis Strelitzia se dames by die Big Red Barn tydens die koshuis se inblynaweek.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.