Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-hokkie gaan van krag tot krag

Geskryf deur Kayla Roets, joernalis by die Fontiepos

Vir beide Akademia se mans- en dameshokkiespanne om ʼn bronsmedalje in die onlangse liga te wen, was beslis die hoogtepunt van die seisoen vir die spelers. Die spanne het besonder goed presteer wat beide aanval en verdediging betref, met spelers wat hulle alles op die veld gegee het. Dit is moeilik om individuele spelers uit te sonder, aangesien elke speler ewe goed gespeel het en tot die span se sukses bygedra het. Gelukkig was daar ook geen noemenswaardige beserings gedurende die seisoen nie, wat beslis in die span se guns getel het.

Die span se strategie was om ʼn verdedigingspel te speel en die ander spanne se aanvallers so effektief moontlik te stuit. Hierdie taktiek was suksesvol, aangesien dit vir albei spanne ’n plek op die podium verseker het. Die ondersteuners het beslis bygedra tot die elektriese atmosfeer van die wedstryd, en dit was vir die spelers ongelooflik om soveel ondersteuners te hê wat hulle aangemoedig het. Albei spanne het ongelukkig die halfeindstryd verloor, wat beteken het dat hulle nie vir silwer of goud kon speel nie. Om bronsmedaljes te wen was egter steeds ʼn groot prestasie.

Ná elke wedstryd het die spelers bymekaargekom en bespreek wat tydens die wedstryd gebeur het en waaraan hulle in die toekoms moes werk. Die span se vertoning het deur die seisoen goed ontwikkel, met spelers wat mekaar se spelpatrone aangeleer het en al hoe meer as ʼn span saamgespeel het. Die sleutelfaktore wat tot die span se sukses bygedra het, was deursettingsvermoë sowel as die vermoë om as ʼn span saam te werk.

Die spanne het gedurende die seisoen ʼn paar uitdagings in die gesig gestaar, maar hulle het saamgewerk om dit te oorkom. Daar was ʼn paar weke waartydens sommige spelers weens ander verpligtinge of ongesteldheid nie kon speel nie, maar die spanne kon daarin slaag om hierdie uitdagings suksesvol te navigeer.

Beide spanne het ten doel gehad om tydens hierdie seisoen spanwerk te prioritiseer, mekaar beter te leer ken en mekaar se spelpatrone aan te leer. Dit was albei die spanne se eerste seisoen, en hulle het alle verwagtinge oortref. Met hul goeie prestasie agter die blad en hul volgehoue toewyding tot uitnemendheid sien die spanne uit daarna om hul sukses in die toekoms voort te sit.

’n Paar lede van die dameshokkiespan tydens ʼn wedstryd.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.