Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-debatspan: ʼn krag om mee rekening te hou

Geskryf deur Kayla Roets, joernalis by die Fontiepos

Debat dien as ʼn platform waar individue of spanne hul menings kan uitspreek, bewyse kan lewer en logiese redenasies kan aanvoer om hul standpunte te verdedig. Dit is ʼn gestruktureerde gebeurtenis wat kritiese denke, effektiewe kommunikasie en die kuns van oorreding bevorder. Onlangs het ʼn reeks boeiende debatte by Akademia plaasgevind, wat die vaardighede en intellek van ons studente ten toon gestel het.

Op 11 April vanjaar is die eerste uitdunne vir Akademia se debatspan by Leriba gehou. Deelnemers, in groepe van hul keuse, is 10 minuut-intervalle gegee om hul argumente voor te berei, gebaseer op onderwerpe wat aan hulle toegesê is. Die doel was om die studente se vermoë te toets om op hul voete te dink, dwingende argumente te konstrueer, en hul posisies te verdedig te midde van die druk van openbare redevoering. Verder het ʼn uitdunronde wat met die Akademia-koshuise verband gehou het, ʼn mededingende element bygevoeg om te bepaal watter koshuis die beste debatvoerders het.

Met ʼn skerp begrip van debat, het Miné Hermann as die koördineerder van die geleentheid opgetree en verseker dat die vasgestelde reëls en prosedures gevolg word. Verder het Pierre Muller, die toegewyde Akademia-dosent in beheer, ʼn deurslaggewende rol gespeel om deelnemers vertroud te maak met die dinamika van debatvoering tydens die aanvanklike sessie.

Nadat die nuwe debatspan gekies en verwelkom is, het hulle opleidingsessies bygewoon waartydens Muller en Hermann die leisels geneem het. Hulle het waardevolle wenke en leiding verskaf oor hoe om sterk argumente te konstrueer en dit oortuigend aan te bied.

In ʼn poging om die beste debatskoshuis te bepaal, het die debatspan ʼn kompetisie gereël wat Huise Strelitzia, Hennops en Valorem betrek het. Hierdie bykomende geleentheid het ʼn element van vriendelike wedywering onder die deelnemers bygevoeg, wat hul entoesiasme vir debatvoering verder aangevuur het. As hierdie aspirant-debatteerders voortgaan om aan waardevolle opleiding en voorbereidingsgeleenthede deel te neem, beloof hul reis een van groei, kennis en betekenisvolle diskoers te wees.

Verder is daar druk voorbereiding vir die groot debatskompetisie “Dink of Sink”. Dié kompetisie sal op 15 Julie by Leriba plaasvind. Akademia sal saam met verskeie ander instellings meeding en die geleentheid beloof om ʼn intellektueel stimulerende ervaring te wees. Kom ondersteun gerus jou mede-Fonties by hierdie geleentheid.

Huis Valorem spog met hul debatsvaardighede by een van die debatopleidingsessies by Akademia.
Miné Hermann is die debatskoördineerder van Akademia se studentespanne.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.