Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

ʼn Aand van tradisie en feestelikheid: Fonties se eerste Cantus by Leriba!

Geskryf deur Kayla Roets, joernalis by die Fontiepos

Op 19 April vanjaar het die Kultuur-en-Erfenis-komitee sy eerste Cantus by Leriba aangebied, en dié geleentheid het nie teleurgestel nie. Fonties, Sol-Tech-studente en lede van AfriForum Jeug kyk terug op ʼn aand van tradisie en feestelikheid.

Markus van Staden, SR vir Kultuur en Erfenis, het alle gaste hartlik verwelkom met ʼn openingseremonie.. Die atmosfeer was uiters gesellig en die opwinding tasbaar danksy die betowerende Cantus-musiek van die Grot Garde-orkes, wat die gehoor regdeur die aand vermaak het.

Vir die van julle wat nie weet nie, Cantus is ʼn eertydse tradisie wat in Duitsland ontstaan het, en behels feesvieringe wat sang, sosialisering en gevestigde tradisies kombineer. Gekenmerk aan formele kleredrag, vereis die tradisie dat deelnemers hoede, baadjies en dasse moet dra, wat ʼn deftige gevoel tot die aand verleen het.

Die Cantus-tradisie dikteer spesifieke rolle en reëls om ʼn harmonieuse en innemende ervaring vir alle deelnemers te verseker. Die Sedermeester, verantwoordelik vir die handhawing van orde, het onder die deelnemers gesirkuleer en verseker dat die reëls nagekom word. Die Senior, die gesaghebbende figuur in beheer, het die verrigtinge gelei en beveel.

Deelnemers is aangemoedig om hul ten volle in die Cantus-atmosfeer te verdiep. Daar is groot klem gelê op dissipline en nakoming van die reëls. Diegene wat die regulasies oortree het, soos die kleredrag, moes ʼn simboliese straf in die vorm van ʼn speelse oorlog in die gesig staar voordat hulle elk ʼn geskiedkundige storie moes deel. Verantwoordelike drinkery is deur die aand aangemoedig om te verseker dat deelnemers die feestelikhede binne hul eie perke en op ʼn veilige manier geniet.

Die aand het ontvou met ʼn lewendige repertoire van volksliedjies, insluitend geliefde liedjies soos “Hasie, hoekom is jou stert so kort?” en tydlose streeksliedjies van verskillende provinsies. Hierdie bekende melodieë het regdeur die lokaal aanklank gevind, wat ʼn gevoel van gedeelde kulturele trots ontlok het.

Fonties se eerste Cantus was ʼn dawerende sukses en ʼn unieke ervaring. Almal wat die geleentheid bygewoon het, kon nie uitgepraat raak daaroor nie. Die Cantus het gedien as ʼn bewys van die belangrikheid van kulturele tradisies, die bevordering van eenheid, en die skep van betekenisvolle studente-ervarings.

Die sondaars voer hulle straf uit met ʼn optrede tydens die Cantus-geleentheid.
Liedere wat die aand gesing is, sluit verskeie bekende volks- en streeksliedjies in.
Die Cantus-liedjiebundel het die gaste gehelp om te kan saamsing tydens die Cantus-geleentheid

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.