Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Die Kaplyn: ʼn Aangrypende verhaal van opoffering, liefde en herinnering

Geskryf deur Kayla Roets, joernalis by die Fontiepos

Die kragtige musiekblyspel, Die Kaplyn, is tans by die AfriForum Teater te sien.. Fontiepos se redaksie het dit bygewoon. Dié verhoogstuk neem gehore op ʼn aangrypende reis deur die lewens van die Joubert-gesin tydens die onstuimige tye van die grenskonflik tussen Angola en Suidwes-Afrika. Hierdie buitengewone produksie werp lig op die opofferings wat deur geslagte soldate en hul gesinne gemaak is, en laat ʼn blywende indruk op almal wat dit bywoon.

Die Kaplyn draai om die meesleurende verhaal van die Joubert-gesin, met die aandag op generaal Ben Joubert en sy twee seuns, Ben Junior en Ruan. Die storie speel in 1980 af, toe die broers vir die Suid-Afrikaanse Weermag se gesogte 1 Valskermbataljon gewerf is. Dit delf in die kompleksiteite van oorlog as ʼn gesinsaangeleentheid. Terwyl die Joubert-manne hul plig op die frontlinie gedoen het, het die veerkragtige moeder, Salome, en suster, Antoinette, tuis gebly en die troepe onvermoeid ondersteun deur hul werk met die Suiderkruisfonds.

Die musiekblyspel meng moeiteloos oomblikke van lag en trane, en neem die gehoor op ʼn emosionele tuimeltreinrit. Dit dien as ʼn moeisame herinnering dat die opofferings wat ons oupas, pa’s en seuns gemaak het, deur ʼn diep gevoel van liefde en plig gedryf is, en dat hulle dapperheid nooit vergeet moet word nie.

Die valskermseremonie is veral ʼn hoogtepunt van die vertoning. Terwyl die akteurs uit ʼn vliegtuig spring, omhul die tasbare sensasie van wind die gehoor en vervaag die lyn tussen die verhoog en die toeskouers. Hierdie unieke aspek laat almal soos ʼn integrale deel van die produksie voel, wat tot die meeslepende aard van die vertoning bydra.

Die Kaplyn beeld die realiteite van oorlog duidelik uit, wat die gehoor ʼn dieper begrip van die tydperk gee. Deur uitsonderlike storievertelling en merkwaardige optredes skets die vertoning ʼn onmiskenbare prentjie van die uitdagings wat soldate en hul gesinne in die gesig gestaar het tydens die grenskonflik. Dit dien as ʼn treffende herinnering aan die plig wat ons almal deel, om die opofferings te onthou van diegene wat ons voorafgegaan het, om te verseker dat hul nalatenskap voortleef.

Die speelvak van Die Kaplyn duur tot en met 4 Junie by die AfriForum Teater. Kaartjies is teen R350 beskikbaar op hul webtuiste.

Die akteurs tydens die slottoneel van ʼn merkwaardige vertoning van Die Kaplyn.
Fonties, asook twee Fontiepos-lede, wat die vertoning saam geniet het.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.