Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Afrikaansdag: ʼn Uitnodiging om ons taal te koester

Geskryf deur Anien van Niekerk, joernalis by die Fontiepos

Op 8 Mei vanjaar het ons die geleentheid gehad om Afrikaansdag te vier. Afrikaans is een van Suid-Afrika se elf amptelike landstale en is die derde mees gesproke taal in die land.

Alhoewel Charlize Theron, bekende aktrise, glo dat daar slegs vier-en-veertig mense wêreldwyd is wat Afrikaans kan praat, toon navorsing dat dié getal etlike miljoene behels. Afrikaans is ook die taal waarin hierdie artikel geskryf is, en die taal van onderrig en leer by Akademia (waar daar ongeveer 2 500 geregistreerde studente is). Daarom kan ons aflei dat daar wel meer as vier-en-veertig van ons is wat hierdie dag kan vier.

Op ʼn meer geskiedkundige noot, is 8 Mei ʼn belangrike dag vir Afrikaans. Op hierdie datum in 1925 het Afrikaans amptelik sy status gekry as ʼn amptelike Suid-Afrikaanse landstaal. As een van die wêreld se jongste tale, wat sy oorsprong vanuit ʼn kombinasie van verskillende tale gevind het, het ons moedertaal vandag ʼn unieke identiteit. Afrikaans gee vir ons kreatiewe woorde soos tuinslang, beeldskoon en mensdom. Woorde soos lekker, braai en koeksister laat ons voel dis die taal waarin ons wil praat.

Verder is daar natuurlik die verskeidenheid stories, gedigte en liedjies wat in Afrikaans geskryf en gesing word. Digters soos Antjie Krog en Breyten Breytenbach is internasionaal bekend. Kurt Darren en Coenie de Villiers se musiek mag dalk soos kapteinsdag en karoo-nag verskil, maar hulle musiek het ʼn gróót indruk op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak. Skrywers soos Jaco Jacobs en Fanie Viljoen maak ook vir baie kinders en tieners deure na die wêreld van letterkunde oop deur hul Afrikaanse gedigte en kortverhale.

Afrikaans was al geskiedkundig onder baie druk. Ten spyte van die geskiedkundige en huidige uitdagings, is die toekoms van Afrikaans tog volgens my rooskleurig. Daar verskyn nog baie liedjies, boeke en konserte in Afrikaans, en daar is heelwat meer as vier-en-veertig mense wat deur hulle daaglikse doen en late ons taal bevorder.

Taal is nie net ʼn vorm van kommunikasie nie, maar ook ʼn deel van die spreker se identiteit. Deur Afrikaansdag te vier, kry ons die geleentheid om ons identiteit te vier – in die woorde van Adam Small: “Afrikaans is ʼn taal wat my hart laat sing”. So selfs al het jy Afrikaansdag hierdie jaar misgeloop, skep sommer vandag nog ʼn geleentheid om jou gunsteling- Jan-Jan-Jan-liedjie te luister of om jou gunsteling- Afrikaanse digbundel weer te lees.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.