Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Hoekom moet ek moeite met my CV doen?

Gepubliseer op: 31 Mei 2022

Geskryf deur dr. Jannet Davel, bestuurder van Personeel en Ontwikkeling

In die rolprent We Bought a Zoo is daar ʼn toneel waar Benjamin Mee sê: “You know, sometimes all you need is twenty seconds of insane courage. Just literally twenty seconds of just embarrassing bravery. And I promise you, something great will come of it.” Twintig sekondes. Dit is al wat dit kos vir jou hele lewe om om te keer. Twintig sekondes is ook volgens navorsing die gemiddelde tyd wat ʼn bestuurder aan ’n kandidaat se CV spandeer in die siftingsproses. Jy het dus net twintig sekondes om ʼn goeie indruk te maak, sonder woorde.

Jou CV is die eerste geleentheid wat die keurkomitee het om jou op papier te ontmoet. Dit is belangrik dat jou CV iets weerspieël van wie jy is. Nie net moet dit uitstaan uit ʼn pak aansoeke nie; dit is ook nie geloofwaardig as jy skryf dat jy kreatief is, maar slegs ʼn Word-dokument, paragraaf-styl, indien nie. Sorg dat jou CV professioneel vertoon en ʼn klein foto van jou bevat (ʼn gestileerde A5-foto is onnodig); klein en professioneel in die hoek van die dokument is voldoende.

Gee genoegsame persoonlike inligting, en noem ook aktiwiteite waaraan jy deelneem, of stokperdjies wat jy beoefen, sodat die keurkomitee ʼn beeld van ʼn volronde mens kan sien. Dink kreatief oor hoe jy jou stokperdjies wil insluit. Partymaal het ʼn ikoon met die stokperdjie meer trefkrag as net “reis”, “draf” of “lees”. Dit is nie nodig om jou skoolvakke te lys nie, maar noem wel leierskapsposisies wat jy beklee het.

Vaardighede is net so belangrik soos formele opleiding. Dit sal tot jou voordeel wees wanneer jy spesifieke vaardighede kan lys, of selfs visueel voorstel. Moet liefs nie by die vaardigheidsafdeling “rekenaarvaardighede” noem nie; dit is in vandag se ekonomie vanselfsprekend.

Die belangrikste is dat jou CV onderafdelings moet hê, maar ook met die eerste oogopslag sin maak. Afdelings wat in ʼn CV ingesluit moet word, is: persoonlike biografiese inligting, ʼn paragraaf oor jou persoonsprofiel, vaardighede, opleiding (formeel asook ander sertifikate en kursusse), werkservaring, stokperdjies, en verwysings.

ʼn Bondige CV skep ʼn goeie indruk; dit laat die keurkomitee nuuskierig om meer uit te vind, maar gee genoeg inligting om jouself as’t ware voor te stel. Wees gewaarsku – dit is soms moeiliker om in minder woorde ʼn volledige boodskap oor te dra. Ideaal gesproke moet ʼn CV tussen 475 en 600 woorde bevat, en nie oor langer as twee bladsye strek nie.

As jy net twintig sekondes het vir ʼn eerste indruk op papier, sorg dat daardie twintig sekondes nie drup van geykte terme, spel- en taalfoute of swak belynde kolomme nie. Gee daardie twintig sekondes kleur, ʼn foto, ʼn kreatiewe ikoon en vaardighede waarsonder die werkgewer nie kan klaarkom nie. Partymaal is twintig sekondes al wat nodig is.

Dr. Jannet Davel is die bestuurder van Personeel en Ontwikkeling by Akademia en sy het ʼn passie vir mense en hul loopbaanontwikkeling.