Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Hoe benader ek my eerste begroting?

Gepubliseer op: 31 Mei 2022

Geskryf deur Nicolene Steenkamp, programkoördineerder: BCom (Finansiële Beplanning)

Daar is altyd ʼn eerste keer vir alles. Om die eerste keer ʼn begroting op te stel, voel soms soos ʼn groot en vreesaanjaende taak, maar dit hoef nie so te wees nie. Mens raak soms benoud as jy aan jou eie finansies dink en partykeer voel mens oorweldig oor die finansiële posisie waarin jy jou bevind.

Om ʼn begroting op te stel, sal jou help om jou finansies te leer ken en ook die angsgevoel wat soms opduik wanneer jy aan jou finansies dink, onder beheer te kry. Om tyd aan jou finansies te spandeer, hoef nie vervelig te wees nie. Steek vir jou ʼn paar kerse aan, kry lekker peuselhappies, haal ʼn paar keer diep asem en dink daaraan as ʼn “selfsorg”-oefening.

Hier is ʼn paar wenke om jou te help om jou begroting op te stel:

1. Hou dit so eenvoudig moontlik

Moenie met ʼn ingewikkelde Excel-spreiblad begin nie. Hou dit eenvoudig. Hoe meer eenvoudig jy dit hou, hoe meer gemaklik gaan jy met jou eie finansies wees. Hier is ʼn templaat na ʼn begroting wat jou gaan help om moontlike uitgawes te identifiseer waaraan jy nie gedink het nie.

Volg die 50/30/20-benadering. 50% van jou inkomste of salaris gaan aan jou onmiddellike behoeftes. 30% van jou inkomste of salaris gaan aan lekkernye en 20% van jou inkomste of salaris gaan jy spaar. Hierdie is net ʼn beginpunt, jy kan altyd die persentasies aanpas om by jou lewenstyl te pas.

2. Baseer jou begroting op jou inkomste

Begin jou begroting met jou netto inkomste of netto salaris. Dit beteken dít wat jou werkgewer in jou bankrekening inbetaal. Die tipe begroting wat jy moet gebruik, moet gebaseer wees op die tipe inkomste wat jy verdien. Indien jy weekliks betaal word, stel vir jou weekliks ʼn begroting op. Indien jy maandeliks betaal word, stel vir jou ʼn maandelikse begroting op. Kyk ook na hoe gereeld jy geld spandeer. Indien jy  jou kredietkaart meer dikwels gebruik as wat jy sou wou, stel vir jou eerder ʼn weeklikse begroting op sodat jy kan boekhou van jou uitgawes.

3. Hou by jou begroting

Vermy situasies waar jy onnodig geld spandeer. Dit is altyd lekker om saam met vriende iets te doen, maar daar is wel maniere om geld te spaar en steeds tyd saam met jou geliefdes deur te bring. ʼn Braai by die huis werk goedkoper uit as om by ʼn restaurant te eet.

Probeer vir jou een dag ʼn week uitsit waar jy geen geld spandeer nie. Maak vir jou kos by die huis of kry ontspanningsaktiwiteite wat nie geld kos nie. Jy sal verbaas wees hoeveel mens kan doen sonder om geld te spandeer. Indien jou  idees opraak,  gaan loer op die internet na aktiwiteite in jou omgewing wat nie geld kos nie. So leer jy ook jou omgewing beter ken en jy ontwikkel dalk ʼn nuwe stokperdjie wat jou nie geld kos nie.

4. Stel vir jou finansiële doelwitte en begroot daarvolgens

Om doelwitte te stel, sal jou beter motiveer om verantwoordelik met jou geld te werk. Stel vir jou kort- en langtermyndoelwitte.

Korttermyndoelwitte is byvoorbeeld om jou studielening af te betaal binne die volgende drie jaar of te spaar vir ʼn lekker Desembervakansie. Langtermyndoelwitte sal wees om te spaar vir jou aftrede. Beide kort- en langtermyndoelwitte is belangrik. Stel vir jou realistiese doelwitte op wat binne jou begroting pas.

Om te begroot, sal jou help om slegte spanderingsgewoontes te identifiseer. So kan jy onnodige koste uit jou begroting sny en minder angstig voel die laaste week voor jy salaris kry. Leer jou finansies ken; so kan jy ook voorberei vir enige onverwagte uitgawes wat oor jou pad kom.

Nicolene Steenkamp is ʼn kenner op die gebied van begrotings en is ook die programkoördineerder vir BCom (Finansiële Beplanning) by Akademia.