Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia bied gehalte entrepreneursopleiding aan in samewerking met AfriForum Sakenetwerk

Gepubliseer op: 6 Junie 2022

Tien Akademia-akademici is vanjaar betrokke tydens die opleidingsweek wat deur AfriForum Sakenetwerk vanaf 13-23 Junie vir entrepreneurs aangebied word. Hierdie opleiding kan in persoon by die Akademia-kampus in Gerhardstraat of aanlyn bygewoon word en handel oor verskeie nuttige temas soos bemarking, finansies, belasting, kontantvloei, basiese rekenaartoepassings, sowel as beginsels van kontraktereg. Dié opleidingsgeleentheid vorm deel van die jaarlikse en gewilde Entrepreneur van die Jaar-kompetisie.

“Die opleiding wat aangebied word, sal jong entrepreneurs in staat stel om hul kennis te verbreed in sekere aspekte waarvoor daar voorheen in die kompetisie ʼn aanvraag was,” sê Mareli Swanepoel, bestuurder van Projekte by Akademia.

Akademia se dosente is volgens Nikkie Kriel, die projekassistent van AfriForum, van topgehalte. “Daar is geen twyfel dat die sessies se inhoud van uitnemendheid sal getuig nie en daarom het ons nie eers twee keer gedink om hierdie projek saam met Akademia aan te pak nie,” sê Kriel. “Natuurlik is dit ’n reusebonus dat hierdie sessies in die entrepreneurs se moedertaal saam met ʼn hoëronderwysinstelling soos Akademia aanpak kan word.” Enige entrepreneur wat graag die opleidingsessies wil bywoon, is welkom.

Nikkie vertel verder dat die kompetisie aanvanklik begin is om blootstelling vir die finaliste en wenners te bied. “Die kompetisie het egter so gegroei dat daar nou nie net blootstelling aan entrepreneurs en hul besighede gebied word nie, maar dié wat aan die hele proses deelneem, word nou ten volle toegerus met kennis en stap boonop met breër netwerke weg,” vertel sy.

Swanepoel sê dat die interaktiewe opleidingsessies wat Akademia aanbied, bied aan entrepreneurs die geleentheid om bymekaar te kom, idees uit te ruil, netwerke te bou, asook om vrae te opper oor aspekte van besigheid waaroor hulle wonder. “Ná die opleidingsessies sal entrepreneurs oor die vermoë beskik om ʼn volhoubare onderneming te kan bestuur.”

Om gehalte opleiding teen ʼn baie bekostigbare prys aan entrepreneurs te bied is een van die maniere hoe AfriForum Sakenetwerk en Akademia ʼn pad saam met entrepreneurs stap. “Ons hoop dat die deelnemers die geleentheid sal aangryp en dat hulle werklik in hulself en hulle onderneming se toekoms sal belê,” sluit Kriel af.

Indien jy ʼn entrepreneur is of selfs nog net die droom het om jou eie besigheid op die been te bring, koop gerus hier vir jou ʼn kaartjie om ʼn goeie entrepreneursopleiding in Afrikaans by te woon. Gryp hierdie geleentheid aan en klik gerus hier vir meer inligting oor die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie vir 2022.