Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Hoe lyk die afgestudeerde Akademia-student?

Gepubliseer op: 20 September 2019

Geskryf deur professor Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia

ʼn Bondige antwoord op hierdie vraag lui dat hoogstaande opleiding en goed begronde opvoeding die belangrikste kenmerke van ʼn toekomstige Akademia-student behoort te wees. Genoemde twee oogmerke kan puntsgewys (veels te bondig!) in enkele punte verduidelik word:

A. Opleiding

Met die voltooiing van hulle kwalifikasies sal Akademia-studente gekenmerk wees deur:

  1. Uitnemende opleiding – dit wil sê opleiding wat aan erkende internasionale standaarde voldoen – binne hulle spesifieke vakgebiede.
  2. Vanweë uitnemende opleiding behoort Akademia-studente toegerus te wees om die arbeidsmark met selfvertroue te betree.
  3. Tegelyk behoort Akademia-studente deur ʼn sin vir verantwoordelikheid jeens die eise van die beroepslewe gekenmerk te wees.
  4. Akademia-studente behoort in staat te wees om met vlieënde vaandels aan die eise van die nuwe tegnologiese era te voldoen.
  5. Akademia-studente behoort in staat te wees om die goeie ten grondslag van hulle onderskeie beroepe na te strewe.
  6. Akademia-studente behoort toegerus te wees om die geluk wat spruit uit ʼn goeie beroepslewe te ervaar.

 

B. Opvoeding

Met die voltooiing van hulle kwalifikasies sal Akademia-studente in die toekoms ook gekenmerk wees deur:

  1. ʼn Teoretiese insig in die samehang tussen hulle eie dissipline en die ander dissiplines.

Sonder ʼn insig in die samehang tussen die dissiplines word studente met ʼn gefragmenteerde beeld op die werklikheid gelaat. Met haar ideaal van opvoeding sal Akademia die gereedskap aan studente bied waarmee dié fragmentasie te bowe gekom kan word.

  1. ʼn Teoretiese insig in die geheel van dinge eerder as slegs ʼn gespesialiseerde opleiding binne ʼn bepaalde vakgebied.

Akademia aanvaar dat daar ʼn direkte verband tussen ʼn insig in die geheel van dinge en die konsep van wysheid is. Wanneer studente hulle kwalifikasie aan Akademia voltooi het, sal hulle deur die deug van wysheid gekenmerk wees.

  1. As studente hulle kwalifikasie aan Akademia verwerf het, sal hulle in staat wees om (op grond van hulle insig in die geheel van dinge) die sogenaamde reduktiewe benaderings in die wetenskappe te kan eien en ook ʼn kritiese houding daarteenoor in te neem.

Met reduktiewe benaderings word verwys na daardie benaderings in die wetenskappe wat deelaspekte van die geheel tot die geheel self verhef.

  1. As studente hulle kwalifikasie verwerf het, sal hulle oor die praktiese deug van die goeie oordeel of verstandigheid beskik. So sal studente toegerus wees om nie net op ʼn verstandige wyse aan die beroepslewe deel te neem nie, maar ook aan die kerklike, politieke, ekonomiese en sosiale lewe.
  2. Studente sal ingevolge hulle karakter, identiteit en verantwoordelikheidsin op ʼn diepgaande wyse gevorm wees.
  3. Studente sal weet hoe hulle in die groter historiese verhaal van hulle eie kultuur pas en wat hul verantwoordelikheid jeens dié verhaal is.
  4. Studente sal ʼn begronde kennis hê van hulle geestelike, intellektuele en historiese erfenis.
  5. Studente sal deur ʼn roepingsbesef gekenmerk word, nie net ten opsigte van hulle eie beroepslewe nie, maar ten opsigte van die skeppingswerklikheid self.