Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-model verminder finansiële druk

Gepubliseer op: 19 September 2019

Deur Marthinus Visser

Studieskuld is wêreldwyd ʼn groot uitdaging. Volgens Forbes is studenteskuld in 2019 die hoogste wat dit ooit in Amerika was, met meer as 44 miljoen mense wat altesaam ongeveer $1,5 triljoen vir studies skuld. In die VSA is slegs skuld op verbandlenings meer as studieskuld.

In Suid-Afrika lyk die situasie nie veel beter nie. Die navorsingsinstituut Eighty20 dui aan dat daar jaarliks ongeveer R9 biljoen deur die NSFAS-fonds aan studente uitgeleen word. Die terugbetalingskoers op hierdie lenings is volgens dié instansie ongeveer 30%. In 2015 het SARS vasgestel dat daar ongeveer 100 000 NSFAS-bevoordeeldes is wat reeds werk, maar nie hulle studieskuld terugbetaal nie. Hulle gesamentlike skuld was in 2015 ongeveer R13 biljoen. ʼn Totaal van 11 700 mense met uitstaande NSFAS-lenings kon nie opgespoor word nie, en hulle lenings – ter waarde van R285 miljoen – is afgeskryf. Eighty20 dui verder aan dat daar in 2015 ongeveer 120 000 mense was wat private studieskuld gehad het. Van hulle was 33% agterstallig met terugbetalings.

Die meerderheid studente in Suid-Afrika kan hulle studies nie kontant betaal nie, en is op lenings aangewese om ʼn kwalifikasie te kan voltooi. Waar privaat lenings ter sprake is (dit wil sê nie befonds deur byvoorbeeld NSFAS nie) word lenings óf in die naam van die student aangegaan met die ouer as borggewer, óf die ouer gaan self die lening aan (meesal teen ʼn huisverband of oortrokke fasiliteit). Die harde werklikheid is dat iemand hierdie lening een of ander tyd sal moet terugbetaal. In meeste gevalle moet hierdie lenings terugbetaal word, ongeag of die student werk kry en oor die finansiële vermoë beskik om die skuld te vereffen. Die groot les wat studente (en hulle ouers, wat help om studies te befonds) hieruit moet neem is om jou studies te voltooi met die minimum (indien enige) studieskuld. Hoe minder studieskuld na afloop van jou studies afbetaal moet word, hoe makliker kan jy ekonomies op jou voete kom. Akademia se studiemodel bied ʼn gulde geleentheid om ʼn hoogstaande kwalifikasie te bekom sonder om daarna met hope studieskuld te worstel. Die kernrede hiervoor is dat studente inkomste kan verdien terwyl hulle besig is om te studeer.

Om die voordele hiervan te illustreer word drie verskillende studiescenarios bekyk vanuit ʼn finansiële of befondsingsperspektief, met inagname van wat die moontlike impak daarvan op studieskuld is.

Scenario 1: ʼn Dagstudent by ʼn openbare universiteit in Suid-Afrika (Gebaseer op klasgelde van R40 000 per jaar met eskalasie van 6% per jaar en ʼn rentekoers van 11%).

ʼn Persoon studeer ʼn voltydse driejaargraad aan ʼn openbare universiteit met ʼn studielening. Die student het nie verblyf en leefkostes nie (hulle woon by ouers of familie). Wanneer die student na drie jaar afgestudeer is, beloop die student se studieskuld ongeveer R156 834. Sou die student hierdie skuld oor vyf jaar delg is die maandelikse paaiement R3 410, en die totale koste om te studeer was R204 600.

Scenario 2: ʼn Student wat verblyf benodig en by ʼn openbare universiteit in Suid-Afrika studeer (Gebaseer op klasgelde van R40 000, behuising teen R36 000 en leefkoste van R24 000 per jaar).

ʼn Student ontvang ʼn studielening om ʼn voltydse driejaargraad by ʼn openbare universiteit te voltooi. Hierdie student het bykomende uitgawes wat aangegaan word vir verblyf- en leefkostes. Wanneer die student afgestudeer is, het die student R392 085 studieskuld. Sou die student die lening terugbetaal oor vyf jaar is die maandelikse paaiement R8 525, en die totale studiekoste R511 500.

Scenario 3: ʼn Akademia-student wat nauurs klasdraf en bedags werk (Gebaseer op Akademia se 2019-klasgeld vir BCom (Ondernemingsbestuur) teen R37 693).

ʼn Student skop studies af om ʼn driejaargraad by Akademia te voltooi. Akademia se onderrigmodel is van so aard dat studente bedags kan werk, terwyl hulle nauurs klasdraf. Die student begin werk om solank aan studies af te betaal. Indien die student R2 500 per maand in die eerste jaar verdien, R3 500 per maand in hulle tweede jaar, en R4 000 per maand in die derde jaar, sal die student nie enige studieskuld hê om af te betaal wanneer die kwalifikasie voltooi is nie. Daarby het die student reeds waardevolle ervaring opgedoen deur te werk en is hulle derhalwe baie meer aantreklik vir die mark.

Die moontlikheid om te werk en studeer klink dalk vergesog. Die werklikheid is dat meer as 90% van Akademia se studente dit wel so doen. Oorweeg al jou studiemoontlikhede. Deur huiswerk vooraf te doen kan dit jou baie tyd en geld in die toekoms spaar. Besoek www.akademia.ac.za vir meer inligting oor Akademia se onderrigleermodel.