Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademiese hoof vertel van onlangse Amerikaanse kongres

Gepubliseer op: 19 September 2019

Geskryf deur professor Danie Goosen

Ek was bevoorreg om pas namens Akademia ’n kongres aan die Universiteit van Louisville, Kentucky, by te woon. Die kongres is aangebied deur ’n belangrike konserwatiewe denkforum in die VSA, die Front Porch Republic (FPR).

Die kongres het gehandel oor die denke van een van die mees vooraanstaande skrywers en intellektuele in die VSA, naamlik Wendell Berry. Berry self het ook die kongres bygewoon en aan ’n belangrike paneelgesprek deelgeneem. Lesers wat nog nie werke van Berry gelees het nie, kan met groot vrug bekende literêre werke soos Jayber Crow en Hannah Coulter lees. Afrikaanse lesers sal hulself bykans dadelik daarin terugvind. Berry se intellektuele publikasies is te veel om op te noem.

Tydens die kongres het Berry in ’n gesprek met my groot belangstelling vir en ondersteuning jeens Akademia uitgespreek. Toe ek vir hom sê dat Akademia nog in haar kinderskoene staan en dat ons, in vergelyking met ander universiteite, nog relatief klein is, het hy verrassend geantwoord: “Klein is beter as groot. Hou dit eerder kleiner, uitstaande en gegrond in die tradisie as groot, lomp en karakterloos!”

Maar waarom ’n kongres oor die denke van Berry bywoon? Soos wat ons lesers weet, plaas Akademia nie net die klem op uitnemende opleiding nie. Akademia wil in die toekoms ook steeds sterker klem op opvoeding as universitêre ideaal plaas. Met “opvoeding” bedoel ons dat die studente wat aan Akademia gestudeer het, nie net oor ’n spesialiskennis sal beskik nie, maar dat hulle ook ingevolge eienskappe soos karakter, identiteit en wysheid gevorm sal wees.

Vanweë die klem op opvoeding is Berry van enorme betekenis vir Akademia. Verskeie publikasies het onlangs oor die belangrikheid van sy denke vir die universiteitswese (en in die besonder vir die ideaal van universitêre opvoeding) verskyn. Daar is egter ook ’n tweede belangrike rede waarom dit vir Akademia belangrik was om die kongres in die VSA by te woon. Dit hou verband met die FPR en die groot netwerk van bekende konserwatiewe intellektuele wat in dié denkforum saamgetrek is.

Alhoewel ons lesers meer van die FPR by wyse van hul webwerf te wete kan kom, is dit belangrik om te noem dat dié forum deur ’n sterk simpatie jeens dinge soos gemeenskap, plek, tradisie en die natuur gekenmerk word. Daarom is dit nie vreemd nie dat in gesprekke wat ons met van dié intellektuele gevoer het, hulle sonder uitsondering ondersteuning vir ons eie akademiese projek uitgespreek het. Trouens, een van hulle eerste vrae was dikwels “Wat kan ons doen om julle te help?”

Anders as wat dikwels die gewoonte is, het ons egter nie hierop geantwoord deur vir finansiële ondersteuning te vra nie. Inteendeel, ons mense is besig om met selfstandige instellings soos Akademia onsself teen die staatsverval te verweer, het ons geantwoord. Die steun wat ons as Afrikaanse universiteit nodig het, is eerder intellektueel en moreel van aard. Dié selftrots wat uit Akademia straal het, om dit maar sag te stel, ’n groter indruk op die Amerikaanse intellektuele gemaak as om by hulle oor ons lot te kla en bakhand vir finansiële steun te staan.

Net ’n laaste nota: As ’n indrukwekkende denkforum is die FPR besig om aan die woord “konserwatief” ’n totaal ander betekenis te gee as dit waarmee ons daagliks in die media en onder pseudo-intellektuele gekonfronteer word. In hierdie sin doen die FPR op ’n uitnemende wyse waarvoor die bekende konserwatiewe denker, sir Roger Scruton, reeds jare gelede voorspraak gemaak het. Scruton skryf:

The first task of conservatism … is to create a language in which “conservative” is no longer a term of abuse. This task is part of another, and larger, enterprise: that of the purification of language from the insidious sloganizing which has taken hold of it. This is not a simple enterprise. Indeed, it is, in one sense, the whole of politics.

Dit was ’n voorreg om dit eerstehands te kon ervaar.

Professor Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, en Wendell Berry, een van die mees vooraanstaande skrywers en intellektuele in die VSA, tydens ʼn kongres in Kentucky.