Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Insiggewende beplanning vir skoon lug nodig

Gepubliseer op: 19 September 2019

Sekerlik een van die belangrikste lewensbronne is die lug wat ons inasem. Met ʼn toenemende bevolkingsgroei en die gepaardgaande industrialisasie en ekonomiese ontwikkeling, raak dit al hoe moeiliker om lugbesoedeling te voorkom. Daarom word gekoördineerde, en selfs ingrypende, optredes vereis om die atmosfeer ten minste aanvaarbaar skoon te hou ter ondersteuning van volhoubare lewe op aarde.

Gedurende September 2019 het professor Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, opleiding in luggehaltebestuur aan meer as 30 senior afgevaardigdes vanaf verskeie provinsies in Suid-Afrika verskaf. Die opleiding word gekoördineer en befonds deur die nasionale Departement van Omgewingsake, terwyl die National Association of Clean Air (NACA) verantwoordelik was vir die administratiewe reëlings.

Die opleiding wat verskaf is, het gehandel oor (1) tegnieke vir die monitering van punt- en omgewingslugbesoedelingsbronne, (2) die invloed van die weer en die omgewing op luggehalte, (3) die wiskundige modellering van lugbesoedelingstrajekte en konsentrasies, en (4) die opstel van ʼn uitgebreide luggehaltebeheerplan op provinsiale bestuursvlak. Die Wet op Luggehalte 32 van 2004 vereis dat luggehaltebeheerplanne, as deel van groter ontwikkelingsplanne, op ʼn roetinebasis deur provinsies opgestel moet word.

Soortgelyke opleiding sal op ʼn gereelde basis in die toekoms aangebied word, en dien as ʼn goeie voorbeeld van hoe Akademia uitreik om aan ʼn volhoubare lewensomgewing te help bou tot voordeel van alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe.

Gedurende September 2019 het professor Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, opleiding in luggehaltebestuur in Pretoria verskaf aan meer as 30 senior afgevaardigdes vanaf verskeie provinsies in Suid-Afrika.